By Jesus se doop sê die Vader in Markus 1:11:
“Jy is my geliefde Seun. Jy is ‘n kind so na my hart.”
Ons is ook geliefde kinders van God. Wanneer Hy
na ons kyk sien Hy ons, deur Homself regverdig verklaar
en skoongewas in die bloed van Jesus! Kinders na sy hart!
Direk na Jesus se doop neem die Heilige Gees Hom die
woestyn in. Markus 1:13: “Daar het Hy 40dae gebly.
Satan het Hom nie met rus gelaat nie. Satan wou kyk of hy
Jesus iets kon laat doen waarvan God nie hou nie. Jesus was
nie alleen nie, die engele het gesorg dat Hy alles het wat
nodig was.”
Die duiwel is so slinks dat hy selfs God se Woord misbruik
om Jesus te versoek. Markus noem nie die drie versoekings nie,
maar ons kry dit in Matteus en Lukas. Ons kan dit soos volg opsom:
Om in beheer te wees. Om skouspelagtig te wees. Om magtig te wees.
Al drie versoekings is vandag nog vir ons uiters aktueel. Satan kom
vandag nog na ons met hierdie groot versoekings.
Hoe kan ons dit weerstaan? Onthou elke dag dat jy ‘n geliefde kind van
God is. ‘n Kind so na sy hart. Vrygespreek in Jesus en regverdig verklaar.
Dit is hoe God jou sien, ongeag die twyfel wat Satan in jou hart wil saai.
Met dié wete, dat jy ‘n geliefde kind van God is, hoef jy nie in beheer te
wees nie. God is! Hy is in beheer van alles en veral ook van jou lewe!
Jy hoef ook nie skouspelagtig te wees nie. God is “skouspelagtig” en
onbeskryflik groot. Fokus alle grootheid op Hom! Jy hoef ook nie magtig
te wees nie, want God jou Vader is almagtig!
Let ook op die woorde in die teks wat sê dat Jesus nie alleen was nie,
en dat God deur engele vir Hom sorg! God sorg ook vir ons!
Verder moet jy, soos Jesus, God se Woord as teen-woord gebruik om
die duiwel te weerstaan. Gebruik die Bybel daagliks in jou lewe.
Ontmoet God daarin. Leer ken sy Vader-hart vir jou daarin.
Versoekings verkrummel eenvoudig voor die aanslag van hierdie God
gegewe wapen. Sit verlossing in Jesus as helm op, die feit dat jy ‘n
geliefde kind van God is, “...en vat die swaard van die Gees, dit is die
woord van God” – Ef. 6:17.
Jy is God se geliefde kind! Jy is ‘n kind so na sy hart!
Onthou dit wanneer enige versoeking op jou pad kom!
Ernest