Markus het waarskynlik die eerste boek oor Jesus geskryf
met die evangelie volgens Markus. Dit was ongeveer 65 na
Christus. Hy het dit die Evangelie, letterlik die “goeie nuus”,
oor Jesus genoem. Markus skryf kort en kragtig en gee dikwels
“net die nodige inligting”. Waarskynlik het Matteus en Lukas
sy evangelie gelees en moontlik afsonderlik verwerk om hulle
eie oog-getuienis daarvan te gee, en hul eie voller verhale van
Jesus neer te skryf.
Markus skryf oor Johannes die Doper en sê dan in Markus 1:14-15
oor Jesus: “Later, nadat Johannes gearresteer is, het Jesus na Galilea
toe gegaan om God se goeie Nuus aan te kondig. Hy het gesê:
“Die tyd het aangebreek. God se koningsheerskappy gaan nou enige
oomblik begin! Kom tot inkeer en glo die Goeie Nuus!”
Dit is verfrissend om hierdie waarheid te weet aangesien Jesus in
hierdie verse sê dat, met sý koms, die tyd aangebreek het waar ‘n lewe
saam met Hom alles in die regte perspektief stel. Dit is regte egte goeie
nuus om in ons tyd in die wêreld opnuut te glo, en die betekenis daarvan
uit te leef. Glo dit! Leef dit! En beleef konkreet die verskil!
E. Stanley Jones, die bekende sendeling, het vertel hoe ontsteld hy was
toe hy in 1934 in Rusland was en gesien het hoe mense ‘n nuwe samelewing
begin bou sonder God. Hy is getroos toe hy in die Hebreërs Bybel-boek lees
dat gelowiges ‘n onwankelbare koninkryk het! Hy lees toe verder In Hebreërs
dat Jesus dieselfde bly, gister, vandag en vir altyd! So het hy besef wát die
goeie nuus van Jesus regtig beteken. Goeie nuus van ‘n onwankelbare
koninkryk waarvan ons deel is, en met ‘n onveranderlike Persoon wat
daaroor heers!
Te midde van die slegte nuus van ons tyd moet ons weet dat ons die
verteenwoordigers is van hierdie Persoon en hierdie onwankelbare koninkryk.
Ons moet altyd onthou dat niks of niemand die koninkryk van God kan laat
wankel nie. So sal die slegte nuus nie ons lewens beheer nie, maar die
Persoon Jesus, en die lidmaatskap aan sy koninkryk.
Glo dit en ervaar daagliks persoonlik hierdie verskil!
Ernest