Markus 1:35-37 sê: “Dit was nog donker toe Jesus
die volgende môre na ‘n stil plek toe is om rustig met God
te gaan praat. Simon en die ander het Hom toe gaan soek.
Toe hulle Hom uiteindelik kry, sê hulle vir Hom:
“Almal wil weet waar U is.”

Let op die treffende woorde dat Jesus na ‘n stil plek toe is
“om rustig met God te gaan praat.” Die mense stel ander eise
aan Jesus as dit. Hy moet beskikbaar wees. Waar is Hy?
Ons kan so gefokus wees op allerhande dinge wat vir ons
belangrik is in terme van ons program en doelwitte, dat ons
van die belangrikste vreugdes in die lewe kan mis!
Soos die vreugde om “op ‘n stil plek rustig met God te praat”!
Ons maak nie tyd daarvoor nie omdat ons ander doelwitte jaag.

Frank Lloyd Wright vertel van ‘n gebeure in sy kinderdae wat hom
dit laat besef het. Hy het saam met sy oom in die veld in die sneeu
gaan loop. Toe hulle aan die einde van die veld kom het sy oom
hom daarop gewys dat hy nie, soos die oom, reguit gestap het nie,
maar dikwels afgewyk het en “zigzag” geloop het. Sy oom het hom
tereggewys met die woorde: “Notice how your tracks wander
aimlessly from the fence to the cattle to the woods and back again.
And see how my tracks aim directly to my goal. There is a important
lesson in that.”
Frank het hierop gesê: “I determined right then not to miss the things
in life that my uncle had missed.” Frank het in sy spore iets gesien wat
sy oom nie kon sien nie, en op uitgemis het in die lewe: Ons kan met
oormaat van doelgerigtheid op ons eie doelwitte onsself weghou van
die vreugdes van die lewe!

Dit het nié met Jesus gebeur nie. Hy het steeds tyd gemaak met wat
vir Hom én God kosbaar is. Tyd om rustig met God te praat in gebed.
Seker die grootste vreugde wat daar is as jy God ken as jou Vader wat
jou liefhet. Jesus het nie net doelgerig gefokus op wat mense van Hom
verwag het nie. Ons maak dikwels hierdie fout. En ons stres onsself uit.
Ons wil almal tevrede hou en aan almal se eise voldoen, veral ons eie
eise aan onsself, ten koste van die vreugdes van die lewe, en bo alles
ten koste van stil tyd saam met die Here “om rustig met Hom te praat”!
Eers as ons tyd maak saam met die Here, raak ons gefokus soos wat ons
moet fokus. Op die regte dinge, wat die vreugdes wat God vir ons bedoel
insluit en nie uitsluit nie!

King Duncan het gesê: “We human creatures are so very strange. We will
believe almost anything except what millions of people have rested their
lives on over the past 2000 years. That the God of all the universe is
available through prayer.”
Ons moenie net doelgerig op ons eie doelwitte afloop soos Frank se oom nie,
maar ook die kosbare vreugdes van die lewe raakleef, waarvan ‘n stil plek
om rustig met God te gaan praat die grootste is!
Maak, soos Jesus, altyd tyd daarvoor!
Moenie die vreugde daarvan misloop nie!

Ernest