“’n Melaatse man het na Hom toe gekom, voor Hom
gekniel en Hom gesmeek met die woorde: “As U wil,
kan U my gesond maak.” Jesus het hom innig jammer gekry,
sy hand uitgesteek en hom aangeraak met die woorde:
“Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!” – Markus 1:40-41.

Jesus gee intens om vir ons. Ons seer en gebrokenheid het
van die begin af God se hart tot aksie beweeg. Daarvoor het
Jesus uiteindelik aan die kruis gesterf.
Markus beskryf Jesus se reaksie met die treffende woorde:
“Jesus het hom innig jammer gekry...” Hierin sien ons Jesus se
hart vir ons krankhede, en veral ook ons gebrokenheid as gevolg
van sonde. Sonde veroorsaak nie per implikasie siekte nie. Maar
Jesus kry ons ook innig jammer oor ons sonde-siekte-toestand.

Die innige jammer-kry bly ook nie net in Jesus se hart nie.
Jesus steek sy hand uit en raak aan die melaatse...die laaste ding wat
jy moet doen. Eintlik moet jy dit nooit doen nie! So is melaatses hanteer.
“The Law could do nothing for the leper; it could only protect the rest of
the community against him. When Jesus encountered the leper that day
in Galilee he was face to face with the most hopeless and untouchable
of all people.” – D.E. Nineham.
Eenkant gestoot en van vergeet. Die melaatse glo een ding van Jesus:
“As U wil, kan U...” Ons moet ook so glo! Glo dat Jesus omgee!
Glo dat Jesus kan. Glo dat Jesus wil.

Ons sien ook hierdie geloof in Markus 2:3-4: “Daar daag toe vier mans
by Hom op wat ‘n verlamde persoon op ‘n mat dra. As gevolg van die
baie mense kon hulle hom nie tot by Jesus bring nie. Daarom het hulle
‘n gat deur die dak bokant Jesus se kop gemaak. Toe laat hulle die mat
waarop die sieke gelê het, deur die dak sak.”
Hierdie mans het gehoor van Jesus en glo vas dat Hy kan en sal help.
Daarom stop niks hulle om die siek man tot by Jesus te bring nie!
Hulle het geweet dat Jesus omgee. Hulle weet Jesus kan help.
Hulle weet Jesus wil help. Daarom keer niks hulle in hul geloof en in
wat hulle vir die siek man moet doen nie.

Kom ons besef opnuut dat Jesus ons regtig innig jammer kry en omgee.
Dat Hy sy hand uitsteek na ons. En dat Hy ons aanraak met God se liefde.
Kom ons glo dit, soos bogenoemde mense, en laat niks ons geloof en
oortuiging keer dat Jesus omgee nie!

Ernest