Die verhaal van die vier mans wat ‘n verlamde man
deur ‘n dak tot voor Jesus laat sak bly treffend in terme
van wat geloof regtig kan doen. Markus 2:5 sê dan:
“Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man:
“My seun, jou sondes word vergewe.”

Hier vind ‘n wonderwerk plaas wat ons elke dag beleef!
God se genade! God gee oneindig meer as wat ons vra.
Oneindig meer! Die verlamde man sal op hierdie oomblik
ontdek dat hierdie Man voor Wie hy nou is, sónde vergewe!
Hierdie Man is die ja en amen op ál God se beloftes. Jesus is
die enigste een wat regtig kan help. “Jou sondes is vergewe.”
Daardeur sê Jesus vir Hom dat Hy baie meer vir Hom doen
as wat hy ooit kon dink of verwag. Jesus sê daardeur vir hom
dat hy ‘n plek het in God se hart!

Vergifnis van sonde is die grootste van alle genesing.
Die genade wat Jesus hier openbaar bring ons in verwondering
vir God se vrygewigheid. Wat ons die aller nodigste het in hierdie
lewe, is om verseker te word van God se vergifnis! Daarom gee
Jesus iets aan die verlamde man wat hy verseker die nodigste het:
Die genade van vergifnis. Dit is wat Jesus elke dag vir ons gee,
en wil gee. God se genade. Die wonderwerk van vergifnis.

Ons beleef genade-vergifnis op vier vlakke:
Genade maak jou vry van al jou sondes, van gister, vandag en môre.
Genade sê duidelik dat God jou aanvaar en liefhet.
Genade veránder jou om ‘n nuwe mens vir God te word.
Genade laat jou dankbaar leef.
Jesus gee oneindig meer as wat ons verwag!

Ernest