“Geen mens kan in hierdie wêreld vrylik ontwikkel en ‘n vol
lewe lei as hy of sy nie voel dat hulle deur minstens een mens
begryp en aanvaar word nie” – Paul Tournier.
Hoeveel te meer het ons nie die aanvaarding van God nodig nie!

Van die mees gehate mense onder die Jode, in Jesus se tyd, was
die tollenaars, die belastinggaarders. Die rede was dat hulle in
daardie tyd bekend was daarvoor dat hulle mense ingeloop het
en dat hulle met die plaaslike Romeinse regering saamgewerk
het hierin. Hulle was dus ook gesien as verraaiers wat met die
heidense vyand heul en hulle as Jode verneuk.

Matteus, wie se naam ook Levi was, was so ‘n gehate man.
Maar kyk wat doen Jesus as Hy Matteus so in die belastingkantoor
sien sit: “Terwyl hulle nog so loop en praat, sien Hy vir Levi,
Alfeus se seun, in die belastingkantoor sit. “Kom saam met My”,
sê Jesus vir hom. Hy het opgestaan, sy goed gevat en agter Jesus
aangestap. ‘n Rukkie later het Levi ‘n ete by sy huis gehou. Jesus
was ook daar met die mense wat agter Hom aangeloop het.”

Matteus het geweet dat Jesus in sy dorp was. Hy het egter ook
geweet dat daar nie ‘n kat se kans was dat Jesus met hom iets te
doen sou hê nie. So het hy waarskynlik gedink! En dan loop Matteus
hom in Jesus se óóp arms in, in plaas daarvan dat hy hom in Jesus vasloop.
Almal is welkom by Jesus! Almal is vir God ewe spesiaal. Deur Hom geskep
na sy beeld. Hy het elke mens lief! Om mense lief te hê beteken dat ons
mense moet sien soos God hulle bedoel het om te wees,
soos God hulle sien.

Walter Trobisch sê ‘n baie belangrike waarheid oor aanvaarding:
“Christus aanvaar ons soos ons is...Maar wanneer Hy ons só aanvaar,
beteken dit gladnie dat ons moet bly soos ons is nie. God se aanvaarding
van ons is maar die eerste tree op ‘n lang pad van geestelike groei.
Om deur die liefde van Christus omvou en aanvaar te word,
is óók om getransformeer te word.”
Dit is hier waar óns aanvaarding van ánder mense inkom.
Ons moet hulle met dieselfde aanvaarding ontvang as wat Jesus met
Matteus kom toon. Ons moet dit nie net sê nie, maar ook in ons daaglikse
lewe wys. Let op dat Jesus ook met sy volgelinge by Matteus gaan eet het.
Hy was nie bang om in die openbaar te wys dat Hy Matteus aanvaar nie.
Meer nog, Hy roep hom as een van sy twaalf dissipels!
Laat toe dat Jesus jou transformeer om mense te aanvaar en lief te hê,
soos wat Hy doen.

Ernest