Jesus is nie teen vas nie, maar Hy verduidelik iets vir
die mense wat hierdie vraag van Markus 2:18-19 vra met
‘n beeld uit sy tyd: “Daar kom toe mense vir Jesus vra:
“Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels
van die Fariseërs gereeld, maar jou dissipels vas nie?”
Jesus het hulle geantwoord: “Dis tog ondenkbaar dat die
bruilofsgaste sal vas terwyl die bruidegom nog saam met
hulle feesvier!”

Na ‘n Joodse troue het die getroude paar nie weggegaan
op wittebrood nie. Hulle het by die huis gebly. Vir ‘n week
of so was dit ‘n oop huis waar naaste familie en vriende
kon kom kuier en feesvier. Daar is inderdaad groot en
gereeld fees gevier. Die huweliksweek was die gelukkigste
week in enige een wat trou se lewe.

Jesus het sy volgelinge gesien soos genooide gaste by
‘n bruilof. Daar was selfs ‘n Joodse wet wat Jode verbied
het om enige iets te doen wat die vreugde sou demp!
Jesus wil hiermee sê dat die belangrikste kenmerk van
‘n Christelike houding die lewe van vreugde is.

Dit sê baie vir ons wat as Christene met lang gesigte rondloop.
Daarmee doen ons afbreek aan ons getuienis as nuutgemaakte
mense met dankbaarheid en vreugde in ons harte!
Die ontdekking van Jesus en die teenwoordigheid van Jesus in
jou lewe is die sleutel tot ‘n vreugdevolle lewe.
C.S. Lewis het gesê: “Joy is the serious business of heaven”.
William Barcley het ook gesê: “The mark of a Christian is a
smiling radiance. The life that is lived in Christ cannot be lived
other than in joy.”
Ons leef met vreugde omdat die koninkryk van God reeds
aangebreek het! Ons sien met vreugde uit na die
bruilofsmaaltyd van die Lam!

Ernest