“Een Sabbat het Jesus hulle deur ‘n koringland gestap.
Sy dissipels het begin honger voel en pluk toe koringare af.
Die streng godsdienstige mense onder die Jode het hulle soos
valke dopgehou en sê toe vir Jesus: “Waarom doen jou volgelinge
dinge wat hulle weet verkeerd is?” – Markus 2:23-24.

Vandag nog hou “streng godsdienstige” mense ander soos valke dop
en wil hulle behoorlik onder die wet van die sonde indruk met hulle
eie oortuigings van wat jy mág doen en nié mag doen nie. Belangrik:
Volgelinge van Jesus is in Hom vrygemaak van die wet van die sonde
en leef in vreugde saam met Hom. “Daar is dus nou geen veroordeling
vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou
in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde
en dood.” – Romeine 8:1-2.

Tydens Jesus se lewe op aarde was daar blykbaar 1521 dinge wat mens
nié op die Sabbat mag gedoen het nie! Die streng godsdienstige mense
het met al hierdie wette amper die vierde gebod so laat lees:
“Jy sal die lewe op die Sabbat nié geniet nie.” Dit is ook hoekom Jesus
die Fariseërs gekonfronteer het: Omdat hulle die vreugde uit die Sabbat,
die dag van die Here, geneem het. Jesus het ons vrygemaak van hierdie
klomp wette en reëls sodat Sondag vir ons ‘n vreugdevolle en God-gevulde
dag sal wees, net soos Jesaja 58:13 al sê:
“..as jy die Sabbat ‘n vreugde noem...”

Die Westminster-kategismus se Vraag en Antwoord 1 leer ons die volgende:
Vraag: “Wat is die hoogste doel en betekenis van die mens se bestaan?”
Antwoord: “Die hoogste doel en betekenis van die mens se bestaan is om
God te vereer en Hom tot in alle ewigheid te geniet.”
Klink dit vreemd op jou oor? Dit is presies wat Jesus ons kom leer het.
Om in vreugde en dankbaarheid vir God te leef. Dit is jou doel op aarde.
Leef met vreugde en dankbaarheid tot eer van God. Moenie toelaat dat
wettiese oortuigings van mense jou vreugde in die Here steel, en jou
terugdwing onder die wet van die sonde in nie.

Jy is dus op die regte spoor wanneer jy nié meer vra: “Wat mag ek doen
en nie doen nie?”, maar eerder vra: “Here, wat wil U hê moet ek op ‘n
Sondag doen? Hoe kan ek my vreugde en dankbaarheid op hiérdie dag
vir U uitleef?” Murray Janson het by geleentheid gesê: “Iets wat op ‘n
Sondag sonde is, is ook op ‘n Maandag sonde.” Die doel van die Sabbat
was alreeds in die Ou Testament bedoel om jou op God en jou verhouding
met Hom te fokus, en nie op allerhande wette nie. Ook die opstandingsdag
van Jesus Christus, wat deur Christene gevier word in die nuwe bedeling
wat Jesus gebring het, se doel is om jou op jou verhouding met God te fokus.
Nie op allerhande “dit mag jy en dat mag jy nie”. Die doel is om van ons
mense te maak wat leef soos Kent Ira Groff dit mooi beskryf het:
“To be prayful, playful and passionate in all spheres of life.”
Leef wat Jesus ons geleer het: Om met vreugde en dankbaarheid
teenoor God te leef omdat Jesus by ons is! Elke dag ‘n vreugdedag!

Ernest