Markus 3:1-3: “Daar was ‘n man met ‘n misvormde hand.
Omdat dit op die Sabbat was, het Jesus se vyande Hom fyn dopgehou.
Sou Hy die man se hand op die Sabbat gesond maak? Indien wel, sou
hulle Hom kon aankla. Hy sê toe vir die man met die misvormde hand:
“Kom staan hier in die middel.” Jesus weet dat hulle Hom fyn dophou
met die doel om Hom aan te kla! Daarom vra Hy vir hulle in vers 4:
“Mag ‘n mens op ‘n Sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red
of doodmaak?” Hulle het egter niks gesê nie! Vers 5 sê dan hoe
“Jesus diep bedroef was oor hulle verhardheid.” Hy sê toe vir die man:
“Steek jou hand uit!” Hy het sy hand uitgesteek en dit was gesond!
Volgens die streng godsdienstiges was dit eenvoudig nie aanvaarbaar
nie! Jesus mag dit nie gedoen het nie. Hulle het ‘n wet daarteen!
Dit is nie sonder rede nie dat Jesus ‘n derde van al sy wonderwerke
wat in die Evangelies opgeteken staan op ‘n Sabbat gedoen het!
Teen die mensgemaakte wette van die Sabbat in. Dit is juis die dag
van uitreik na ander mense sodat iemand anders die vreugde van die
Sabbat en die genade van God kan ervaar.
Ook ten opsigte van die Sondag-viering was en is daar steeds mense
wat allerhande ekstra dinge daaraan koppel, wat jy mag doen en nie
mag doen nie. Reeds in Markus 2:27 het Jesus gesê: “Die sabbatdag
is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie.”
Die dag is nie vir God belangriker as die mens nie.
Daarom maak Jesus die mens gesond op die Sabbat!
‘n Jood en ‘n Christen het langs mekaar geboer. Met oestyd het die
Jood een Sondag begin oes, terwyl sy buurman, as Christen, gaan
aanbid het. Die Jood besef toe dat die Christen-vriend van hom ‘n
deel van sy oes sal verloor as hy nie op dié dag begin oes nie. Hy help
toe sy vriend en die Maandag ontdek die Christen dat sy landerye
afgeoes is! Hy sê toe vir sy Joodse vriend: “Terwyl ek die Sondag gevier
het, het God se engele kom oes.” Later, gedurende die dorstyd, was die
Christen besig om op die Saterdag te dors, terwyl die Jood op die Sabbat
gaan aanbid het. Nadat hy sy graan gedors het kyk hy na sy Joodse vriend
se graan en besef: “As my Joodse vriend nie vandag sy dorswerk doen nie,
sal hy alles verloor. Ek sal vir hom dors.” Toe die Sabbat verby is, ontdek
die Jood dat sy graan gedors is! Dadelik sê hy: “ Skepper-God, U het U
engele gestuur terwyl ek die Sabbat gevier het.”
God word nie geraak deur ons aanbidding op ‘n bepaalde dag nie,
voor ons hart nie deur Hom geraak of beïndruk word nie, en Hy en ons
medemens belangriker word as onsself nie!
As Christene vier ons elke week die Sondag as opstandingsdag van Jesus.
Die nuwe bedeling in Jesus het gekom! Hoe het ons geestelik gegroei deur
God lief te hê en ons naaste soos onsself? Dink bietjie hieroor:
Elke sewe jaar het jy ‘n volle jaar van Sondae beleef. Iemand wat 21 jaar
oud is, het reeds 3 jaar van net Sondae vir sy of haar geestelike groei gehad.
Watter effek het al jou Sondae al sover op jou geestelike groei gehad?
Fokus op God en jou medemens, en nie op wettiese reëls ten opsigte van
sekere dae nie...
Ernest