Jesus leer in gelykenisse en sê dan daaroor:
“As julle mooi na die verhale luister, sal julle baie oor
die geheime van God se heerskappy in die wêreld leer.
Julle gaan dinge hoor wat julle nog nooit gehoor het nie.
Julle wat My ken, sal die verhale reg verstaan.” –
Markus 4:11-12.

Wanneer mense hulle liefde vir stories verloor, verloor
hulle hul kinderlikheid. Dan verloor hulle ook hulle oopheid vir
God en sy dinge. Wie God bo alles liefhet, sal God in alles sien.

Hoekom gebruik Jesus stories en visuele voorbeelde om sy
boodskappe oor te dra? Daar gaan ‘n wêreld vir jou oop as jy
snap wat William Temple gesê het: “Jesus taught people to see
the operation of God in the regular and the normal – in the rising
of the sun and the falling of the rain and the growth of the plant.”
Vir Jesus was hierdie wêreld nie ‘n verlore plek nie.
Dit was vir Hom God se eiendom!

Jesus het met sy stories en visuele voorbeelde eintlik gesê:
As jy wens om God te sien, kyk om jou! Jesus het in die
alledaagse dinge van die lewe ‘n onuitputlike bron van tekens
gesien wat mense na God sou lei as hulle die tekens net reg
wou lees! Jesus wou vir die mense leer wat so mooi in Psalm 24
gesê word in die vertaling van The Word on the Street:
“God owns the planet: the title deeds, the plants, the seeds,
the animals, the land, the seas. He owns the life, the love,
you and me: God owns the planet.”

God is nie net in die groot dinge waar ons Hom raaksien nie,
soos die treffende sonsondergange en magtige berge nie,
of die onstuimige stormsee en die bliksemstrale nie.
God is ook in die klein dingetjies soos die glimlag van ‘n
medemens, die herfsblare wat val, die mooi veldblomme
en die doudruppel op ‘n blaar.
Daar is geen beperking in hoe God Hom aan ons openbaar
in hierdie wêreld nie. Jesus beklemtoon dit vir ons in sy
beelde en gelykenisse. Leef dit raak en ontmoet God daarin!

Ernest