Hoe bou ons die koninkryk van God?
In Markus 4 lees ons ‘n paar baie belangrike waarhede raak.

Die eerste is: Ons moet goed luister wat die Here sê.
Markus 4:23-24: “Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na
wat Ek sê.” Hy het ook vir hulle gesê: “Maak seker dat julle goed
aandag gee aan wat julle van My hoor. Hoe meer julle luister, hoe
meer sal julle verstaan.” Letterlik: Wie ore het en kan hoor, moet
luister! Baie het ore, maar luister nie. Jesus sê ons moet leer om fyn
te luister.
Ritamary Bradley het gesê: “It is not why does God not hear me,
but why do I not hear God?” God praat, maar hoor ons Hom?
Een van ons probleme en ook ‘n groot versoeking van Jesus-volgelinge
is om dit wat hulle in die Woord van God hoor, op ander toe te pas
sonder om dit eers op hulleself van toepassing te maak. Ons kan slegs
aan die koninkryk van God bou wanneer óns luister na wat God sê en
Hom gehoorsaam.

Die tweede is: Ons kan nie groei forseer nie. Markus 4:26-27: “God se
koningsheerskappy is soos ‘n boer wat saad op ‘n land saai. Dan gaan
hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei
die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie.” Ons kan aan die koninkryk
van God bou deur die saad te plant, water te gee, en te versorg. Maar,
groei vind teen sy eie pas plaas. Met eerbied gesê: Ons gee aan God
ruimte om God te wees. Net God kan laat groei. Ons kan nie. Ons word
dikwels hier gekonfronteer met die moeilike realiteit:
Wag dat iets gebeur. Ons moet hierin leer om op God te wag.

Die derde: Groei vind plaas in mosterdsaad-dade! Markus 4:31-32:
“Dis soos ‘n mosterdsaadjie wat wel die kleinste van alle sade is, maar
nadat dit geplant is, skiet dit op en word groter as al die plante in die tuin.”
Jesus gebruik hier nog ‘n voorbeeld om God se koningsheerskappy in sy
koninkryk toe te lig. Klein mosterdsaad-dade in God se koninkryk groei
tot iets groot. Die sade mag klein dade van geloof, en vriendelikheid en
barmhartigheid wees wat wortel skiet en baie vrug dra. ‘n Glimlag, omgee,
‘n helpende hand. Al hierdie klein dade laat die koninkryk van God groei.
Ons én ander mense leer so om God in die klein dingetjies van die lewe
raak te sien en raak te leef.
Kom ons bou daagliks, oral en in alles en almal aan die koninkryk van God.

Ernest