Markus 5 vertel ‘n vreemde gebeure wat tussen
die grafte afspeel waar ‘n mal man op Jesus afstorm.
Dit klink amper soos iets in ‘n riller verhaal. Verse 2-3:
“Jesus het skaars uit die skuit geklim of ‘n man met ‘n
demoon peil reg op Hom af. Hy het uit die begraafplaas
aangestorm gekom, want dit is waar hy gebly het. Hy was
woes en onbeheerbaar en die mense kon hom nie eens
meer met kettings vasbind nie.”

Hierin leer ons dat jy nie in ‘n oorlog met jouself of ander
mense hoef te wees, soos hierdie besetene nie. Daar is dié
Persoon in Wie jy vrede kan maak. Jesus! Wanneer ons na
Jesus kyk, hoe God wil hê ons moet wees, besef ons die oorlog
met jouself en ander is verby. Vrede met ‘n hoofletter is hier!
Jesus maak hierdie man gesond en die demone vaar in die varke
in, wat die see in vaar. Hierdie verhaal van hierdie besete man
speel af tussen varke en grafte, alles dinge en mense wat deur
die Jode as onrein beskou is, en waarmee jy niks te doen moet
hê nie.

Jesus wys hier vir die mense dat Hy ons nie net verlos van regte
gevare nie, maar ook van denkbeeldige gevare. Dikwels is die
denkbeeldige gevare in ons lewe die moeilikste. Hoekom laat
Jesus toe dat die demone in die varke invaar? Vir Jesus was diere
belangrik, maar ‘n mens se siel die allerbelangrikste. Jesus moes
vir die man ‘n bewys gee dat die demone uit hom weg is, en geen
houvas meer op hom het nie. Hulle is in die varke in!

Markus 5 vertel verder in verse 15 en 17: “Daar aangekom, sien
hulle die woeste man rustig by Jesus sit. Hy was netjies aangetrek
en het normaal opgetree, soos enigeen van hulle. Dit het hulle
bang en onseker gemaak. Vers 17: “Die mense uit daardie gebied
was egter baie ontevrede en het Jesus gevra om pad te gee.”
Weer denkbeeldige gevare! Jesus maak ‘n man gesond, en in die
mense se gemoed is daar nou ‘n bang en onsekere reaksie!
Dit fassineer ons eintlik. En tog maak mense vandag nog so.
Hulle kan nie glo die “mal” man sit rustig by Jesus nie. Bang, want
so iets het hulle nog nie gesien nie. Vrees verlam jou so dat jy met
jou denkbeeldige gevare nie helder kan dink nie!
Wie is dié Jesus, en wat gaan Hy aan hulle doen?
Daarom vra hulle vir Jesus om eerder te gaan!

Ons moet Jesus “face”, soos hulle in Engels sê,
want Hy gáán jou verander! Maar Hy is genadig en goed.
Daarom gaan Hy jou verander om meer en meer soos Hy te leef.
Om die beeld van Hóm uit te straal. Wie anders kan ons verander
om weer te wees wat God ons bedoel het om te wees? Ons moet
in Jesus ons denkbeeldige vrese oorwin. Hy doen dit in ons!
Bangwees en menswees is aan mekaar gekoppel. Jesus laat jou egter
anders na jou vrese kyk. By Jesus oorkom jy jou vrese.
God se volmaakte liefde in Christus Jesus, verdryf vrees!
Dit het Franklin Roosevelt laat sê:
“We have nothing to fear but fear itself”
Lééf onbevrees in Jesus en vir Jesus!

Ernest