Markus 5:25: “Daar was ‘n vrou wat vir twaalf jaar aan
bloedvloeiing gely het.” Vers27: “Toe sy van Jesus hoor,
het sy deur die skare gebeur en van agter aan sy klere geraak.”
Vers 30: “Wie het aan my klere geraak?” het Jesus gevra. Vers 33:
“Die vrou het bewend van angs voor Hom kom neerval.” Vers 34:
“My dogter, omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword.”

Hierdie is ‘n aangrypende gebeure. Soms weet ‘n mens nie
meer wát om te bid nie, soos hierdie vrou wat al twaalf jaar aan
bloedvloeiing ly. Niemand kon haar help nie. Toe kruis haar pad
met Jesus. So het die vrou daardie dag na Jesus gekom:
Sonder woorde, maar met ‘n uitgestrekte hand! In dié sekerheid
dat God weet van haar. God verstaan. Jesus noem hierdie houding
van haar, geloof! “...omdat jy so vas geglo het,
het jy gesond geword.”

Geloof is dus nie iets wat ék presteer nie. Geloof is vertroue dat
God die beste weet. Geloof is ook ware selfkennis. Dat ek nie weet
wát om te vra nie, ja, dat ek selfs nie mooi weet wát ek wil hê nie.
Volgens Romeine 8:26-27 is geloof dan ook om te weet dat die
Heilige Gees vir my intree volgens my behoefte én volgens God se
wil! Die Heilige Gees sit my woorde, of gebrek aan woorde, om in
hemeltaal. So ‘n gebed gaan nie by God verby nie. Al was daar geen
woorde nie, net die uitgestrekte hand, is Jesus bewus van hierdie
vrou. Ons kan óók ons hand net in geloof na Jesus uitsteek met ‘n
hart wat nie meer weet wát om te bid nie.
Die Heilige Gees sal ons help! Ons bid dikwels ook sonder woorde.
Die Gees tree vir ons in. Juis as ons sug en struikel oor ons woorde...
en nie meer weet wát om te bid nie.
Strek jou hand uit na God...

Ernest