Markus 6:3-4: “Hy is tog maar net ‘n blote timmerman,
die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas
en Simon! Hulle het ernstig aanstoot geneem aan sy optrede.
Toe sê Jesus vir hulle: “’n Profeet word oral geëer behalwe in
sy tuisdorp en deur sy familie en sy huisgesin.”

Hulle wat Hom as die seun leer ken het wat tussen hulle groot
geword het, kon nie glo dat Hy die Messias is nie. Jesus word
deur sy eie dorpsmense verwerp. Dit is ‘n tydige herinnering
aan ons, dat dit heel moontlik is dat iets of iemand voor jou kan
staan, en jy die belangrikheid daarvan nie raaksien nie.
In 1905 het die Universiteit van Bern ‘n Ph.D.- verhandeling
afgekeur omdat dit vir hulle net te onwerklik en irrelevant was.
Die student wat die slegte nuus ontvang het dat sy verhandeling
afgekeur was, was Albert Einstein! Hulle het sy relatiwiteitsteorie
afgekeur! Vandag nog ontdek hulle waarhede in die buitenste
ruim wat sy teorieë bevestig.

Jy kan soms te naby aan iets staan om dit regtig te waardeer.
Jy staan te naby aan die bome om die woud te ervaar. Daar is
mense wat in die kerk opgegroei het en Sondag na Sondag
“kerk toe gaan”, maar wat verby Jesus lewe. Hulle ken Jesus
maar op dieselfde manier as wat hulle hul bure ken wie hulle
selde mee gesels. As Jesus volgelinge kan ons so gewoond raak
aan die lewe van Jesus volgelinge, dat ware Jesus oomblikke
voor ons verbyglip.
Die Joodse filosoof, Martin Buber, het altyd gevra:
“As die Messias gekom het, waar is die Messias se mense dan?”

Ons moet ook onsself afvra: As Jesus gekom het om ‘n verskil in
hierdie wêreld te maak, waar maak ons as sy volgelinge ‘n verskil?
Die vraag is nie waarom Jesus se eie familie en dorpsmense nie na
Hom geluister het nie?
Die vraag is eerder waarom ons dit nie doen nie...?

Ernest