Jesus self het aan ons die voorbeeld gestel om met ritme
te leef. Markus 6:45-46: “Dadelik hierna het Jesus sy
dissipels aangesê om weer in die boot te klim en solank
voor Hom uit na die oorkant, na Betsaida toe, te vaar
terwyl Hy self die skare huis toe stuur. Daarna het Hy
alleen teen die berg opgegaan om te bid.”
Jesus máák tyd om te bid!

Catherine Marshall het in 1959 met ‘n wewenaar getrou.
As skrywer het sy baie minder tyd gehad om te skryf.
Die rede was dat sy probeer het om haar man se drie
kinders nou groot te maak as haar eie! Met baie om oor
te bid, sou ons ook weet, het sy en haar man Len min tyd
gehad om stil te word. Hy het lang ure gewerk om die pot
aan die kook te hou. Toe begin hulle iets wat hulle die
koffie-eksperiment genoem het. Hulle het ‘n outomatiese
koffiemasjien aangekoop wat hulle elke oggend om sesuur
met geurige koffie wakker gemaak het. Dan het hulle vir ‘n
tydjie hulleself oorgegee aan God, en sy vrede het heeldag
saam met hulle gebly te midde van dikwelse onvrede.
Catherine Marshall het toe tot die gevolgtrekking gekom:
“The best time for prayer isn’t found. It’s made.”

Jy sal nooit tyd vind vir stil word by God nie. Jy moet tyd maak
daarvoor. Die lewe sal heeltyd dreig om jou in die maalkolk van
gejaagdheid in te sluk. Maak ‘n tyd wat die beste vir jou werk.
Enige tyd. Jou beste tyd. Maak net tyd. Terwyl Jesus, wat tyd
gemaak het, op die berg bid, sién Hy hoe swaar sy dissipels op
die see in die storm kry. Tyd vir gebed is dan weer verby.
Met die krag wat God gee was dit weer tyd vir aksie.
Hy gaan help sy dissipels met God se krag!

Jesus volgelinge máák tyd vir gebed. Jesus stel die voorbeeld.
As jy te besig is om tyd te maak vir God, is jy besiger as wat God
jou wil hê. Net God kan orals wees. Ons kan nie. Hoe wyer jy loop
in hierdie lewe, hoe vlakker loop jy. Hoe nader jy aan God loop,
hoe dieper loop jy, en hoe groter verskil maak jy in en met jou
hele lewe. Is jy te besig?

Ernest