In Markus 7 het die Fariseërs en sommige skrifgeleerdes
van Jerusalem af gekom om te kyk wat hierdie Jesus doen.
Hulle sien toe party van Jesus se dissipels eet met onrein
hande wat nie gewas is nie. Hulle vra toe vir Jesus waarom
sy dissipels nie volgens oorgelewerde gebruike hulleself
reinig voor hulle eet nie. Jesus antwoord hulle dan in vers 6:
“Julle skynheiliges! Die profeet Jesaja het dit raak gestel toe
hy van julle geskryf het: “Die volk eer My met hulle mond,
maar hulle hart is ver van My af.”
Die vraag is of ons buitekant en ons binnekant met mekaar
klop? Klop jou uiterlike met jou innerlike? Is jy skynheilig of
skyn jy werklik heilig deur die Gees in jou? Die Heilige Gees
maak ons van binne heilig sodat die beeld na buite God se
lig laat skyn. Die Heilige Gees in jou sal jou heilig laat skyn.
Ons moet anders begin dink oor God. Oor Wie Hy is. Dan
beweeg ons weg van die gat waarin die Fariseërs geval het.
Om uiterlik te beïndruk maar binne leeg te wees. Hulle het
gedink om God te beïndruk met wettiese godsdienstige reëls,
sonder dat God in hulle harte is. ‘n Lewe waar ons uiterlike
en innerlike klop met mekaar, begin by die besef hoé God
oor jou dink en voel. Onvoorwaardelike liefde en aanvaarding
van almal.
Juliana van Norwich het treffend gesê: “The greatest honour
we can give to God, is to live gladly because of the knowledge
of His love.” Om dankbaar en met blydskap te leef, begin met
reg leef, en reg leef begin met reg liefhê, reg liefhê begin as jy
besef hoé lief God jou werklik het! Dan leef ons met die hulp
van die Heilige Gees totaal anders. Wanneer ek besef hoe lief
God my het, kan ek nie anders as om die lewe deur die Gees
te leef nie. Dit is om die Heilige Gees toe te laat om die beeld
van God in my wakker te maak.
Ons lewe deur die Gees.
Laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal – Galasiërs 5:25.
Ernest