Jesus-volgelinge doen goed aan alle mense.
Dit is ‘n belangrike Jesus-volgeling beginsel.
Markus 7:34-35: “Jesus kyk toe op hemel toe en met ‘n
diep sug sê Hy vir die man: “Effata.” (Dit beteken: “Gaan oop.”)
Dadelik kon die man hoor en normaal praat. Vers 37: “Die mense
kon eenvoudig nie oor al hierdie wonderlike dinge stilbly nie.
Alles wat Hy doen, is eenvoudig goed.”
Ons moet bewus wees van én sensitief wees vir die behoeftes van
mense na wie ons wil uitreik. Jesus het hierdie beginsel uitgeleef.
Alles wat Hy ten opsigte van mense doen, is eenvoudig goed.

In vers 34 kyk Jesus op na die hemel toe. Dit sê so baie van Jesus
en van ons as sy volgelinge. Die verhouding met God ons Vader
moet die kragbron wees. Peter T. Forsyth het gesê: “Unless there
is within us that which is above us, we shall soon yield to that which
is around us.” Dit gaan bo alles oor God. Jesus kyk op hemel toe.
Die Vader is sy kragbron, en alles wat Hy doen, doen Hy ter wille van
die eer van God. Jesus toon hiermee dat Hy afhanklik van God is.

Verder in vers 34: Met ‘n diep sug sê Hy... Sy sug is ‘n saam-voel met
die doofstomme. Dit kan ook dui op gebed, soos ons in Rom. 8:22-27
lees. Jesus volgelinge moet ook so optree. Kyk op na God in gebed.
Dan sê Jesus die enkele gesagvolle Aramese woord van sy moedertaal:
“Effata! Gaan oop!”, om die man te genees. Omdat ons so vasgevang is
in ons manier van dink en doen, moet Jesus ook as’t ware vir ons sê:
Gaan oop! Ons moet oop raak vir Jesus se manier van doen wat nie
altyd volgens ons smaak en voorkeure is nie.

Jesus se eerste instink was altyd om ander te wil help en goed te doen
aan hulle. “Alles wat Hy doen, is eenvoudig goed.”
In Markus 8:2 sê Jesus: “Ek voel jammer en bekommerd oor die mense.
Hulle is nou al drie dae hier by My en hulle het niks meer oor om te eet
nie.” Daar moet iets in jou gebeur as jy altyd, soos Jesus, ander wil help.
Wanneer jy Jesus in jou naaste raaksien, sal jy sensitief raak vir mense se
nood.
Eendag is aan ‘n ou priester gevra om oor homself te praat. Die mense
wou graag meer weet van hierdie besondere man wat so geliefd is. Na ‘n
lang stilte het die ou man geantwoord: “My naam...was altyd Ek. Maar nou,
...is dit Jy!” Hy het Jesus in elke mens voor hom raakgesien en aan hulle
goed gedoen. Soos Jesus: “Alles wat Hy gedoen het, was eenvoudig goed.”

Ons eerste instink is ongelukkig om nié te wil help nie. Dit is menslik om die
moeite te wil vermy om iemand anders te help en betrokke te raak. Dit is
egter God-geïnspireerd om met deernis en omgee beweeg te word om
iemand anders te wil help, soos Jesus gemaak het!
Laat ons, as Jesus volgelinge, soos Jesus, mense met deernis en omgee help.

Ernest