“Die dissipels het vergeet om brood saam te vat;
hulle het net een by hulle in die skuit gehad. Jesus het
hulle toe gewaarsku: “Pas op, wees op julle hoede vir die
suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodus.
Hulle het toe vir mekaar gesê dit is omdat hulle nie brood
het nie. Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Waarom praat
julle daaroor dat julle nie brood het nie? Begryp en verstaan
julle nog nie? Is julle nog steeds so traag van begrip? Julle
wat oë het, sien julle dan nie? Julle wat ore het, hoor julle
dan nie? Onthou julle nie, toe Ek die vyf brode vir die vyf
duisend gebreek het hoeveel mandjies vol stukke brood
julle oorgehou het?...” – Markus 8:14-19.
Wanneer hulle oor brood praat sluit Jesus by die beeld van
brood aan om ‘n boodskap vir hulle te bring. Dit gaan nie vir
Hom oor die brood as sulks nie. Die dissipels dink wel so.
Die suurdeeg van die Fariseërs en van Herodus gaan oor
ongeloof! In Joodse kringe is die werking van suurdeeg
gewoonlik in negatiewe lig beskou as ‘n vorm van agteruit-
gang. Die Fariseërs en Herodus wil nie glo nie, ten koste
van hulleself en die wat hulle rondom hulle beïnvloed,
soos suurdeeg.
Jesus konfronteer nou die dissipels verder oor hulle ongeloof.
Dikwels het hulle, anders as wat ‘n mens sou dink, nie verstaan
nie! Hulle het al soveel wonderwerke gesien dat hulle behoort
te weet die een brood op die skuit is nie vir Jesus ‘n probleem
nie. Jesus spreek hulle aan omdat hulle nie begryp en verstaan
nie, nie oor die brood nie. Hulle sien en hoor nie! Daarom verwys
Hy hulle na die wonder van vermeerdering van die brode!
Alhoewel hulle nog onkundig en ongelowig is, is daar ‘n belangrike
verskil tussen hulle en die Fariseërs en mense wat nie wil glo nie.
Hulle wíl Jesus volg, maar verstaan nog so baie dinge nie van wat
hulle sien en hoor nie. Jesus vra hulle: Verstaan julle dan nie?
Later sou hulle wel verstaan! Vir elke volgeling van Jesus is dit
geweldig bemoedigend!
Hiermee word ook ‘n waarskuwing gerig: Om naby Jesus te wees,
selfs al is ‘n mens in die binnekring soos die dissipels, is nog geen
waarborg dat jy in Jesus glo nie. Na die kruisiging en die opstanding
het hulle verstaan en voluit geglo, en die wêreld gaan omkeer!
Ons moet weet: Om Jesus te volg moet jy hierdie misterie gelowig
jou eie maak! Dit is wat geloof is: “Om te glo, is om seker te wees
van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat
ons nie sien nie.” – Hebreërs 11:1.
Ernest