In Markus 8:27-30 bely Petrus dat Jesus die Christus is.
Dit is die hoogtepunt van Markus se verhaal oor Jesus
tot op hierdie punt. Tot hier het die mense nie regtig
besef dat Jesus die Messias is nie. Selfs nie eers die
dissipels nie! Nou gebeur dit! Wat beteken dit as Petrus
bely dat Jesus die Christus is? Anders as met ons, het die
Jode nie verwag dat die Messias ook die Seun van God sou
wees nie. Verder het al die Jode ook nie dieselfde verwagting
oor die Messias gehad nie. Breedweg het hulle ‘n besondere
persoon verwag, soos koning Dawid byvoorbeeld, wat hulle ook,
onder andere sou verlos van Romeinse heerskappy oor hulle..

In verse 31-33 kom Jesus nou met ‘n dramatiese aankondiging:
Hý is wél die Messias! Maar nié die soort Messias wat die Jode
en die dissipels verwag het nie. Hy kom nie oorwin of heers nie,
maar lý! Hiermee is dit ook Jesus se eerste lydingsaankondiging.
Dit is deel van die Goddelike plan. Hy móét ly. Hy is die Groot
Lydende Regverdige. Maar saam daarmee verduidelik Jesus dat
die dood nie die finale sê sal hê nie. Hy sal opstaan uit die dood.
Jesus se aankondiging in Markus 8:31-33 vorm die keerpunt in
Markus se verhaal oor Jesus. Alles wat nou verder gebeur is
afgestem op Jesus se lyding en opstanding.

Maar kyk na Petrus se reaksie. Hy berispe Jesus omdat Jesus nie
voldoen aan húlle verwagting van die Messias nie.
Hoe maklik wil ons nie vandag nog ‘n Jesus “skep” wat aan óns
verwagtinge moet voldoen nie! ‘n Gemaklike Jesus. Nie een
waarmee jy ‘n kruis moet opneem nie. Net ‘n Jesus wat
beantwoord aan ons behoeftes. Daarom berispe Jesus weer op
sy beurt vir Petrus in Markus 8:33: “Jesus het egter omgedraai en
na sy volgelinge gekyk. Hy praat toe streng met Petrus: “Gee pad
agter My, Satan! Sê Hy. “Al wat vir jou saak maak, is wat mense
wil hê. Jy gee nie om wat God wil hê nie. ”

Dit is natuurlik baie sterk woorde! Wat beteken dit dat Jesus Petrus
so sterk berispe? Petrus laat hom deur Satan misbruik omdat hy net
in menslike terme dink, en nie in terme van God se wil nie.
Dit is ook iets wat met ons gebeur wanneer ons onsself en ons
doelwitte en verwagtings bo God se wil stel.
Daarom wys Markus van vers 34 af die baie sterk ooreenkoms
tussen Jesus se Messiasskap en die aard van dissipelskap!
Om Jesus te volg kos ‘n duur prys. Dit vra alles!
Kruis opneem en Hom alléén volg!
Bid dat jy waarlik Jesus sal volg as jou Verlosser,
en Hom alleen sal dien as Here van jou lewe.

Ernest