In die tweede deel van Markus 8:33 sê Jesus vir Petrus:
“Al wat vir jou saakmaak, is wat mense wil hê. Jy gee nie
om wat God wil hê nie.”
Harde woorde, maar woorde wat ons laat dink. Dit is ‘n
snaakse verskynsel, somtyds ‘n aaklige verskynsel, dat die
Satan – wat versoeker beteken – soms met ons praat deur
die stem van iemand wat jou liefhet! Dit is wat Jesus hier
deur Petrus hoor, dat Hy ‘n pad moet kies wat nie God se
wil is nie. Dit laat Jesus vir Petrus sê dat dit die Satan is wat
nou deur Petrus praat! Volgelinge van Jesus moet maak
soos God wil hê!

In sy boek “Christianity beyond believe” bevraagteken
Tod Hunter die vraag waarmee baie mense op evangelisasie-
veldtogte deur Christene gekonfronteer word:
“As jy vandag tot sterwe sou kom, waarheen gaan jy?”
Hy sê ons moet eerder die volgende vrae vra:
As ons weet dat ons vandag en môre gaan lewe,
en vir ‘n lang tyd daarna, wát sal ons doen?
Wie sou ons volg?
Rondom watter waarhede sal ons die verskillende
aspekte van ons lewe organiseer en bou?

As ons hierdie drie vrae begin antwoord, sê Hunter, bepaal
ons watter soort lewe ons wil hê. Ons besluit dan watter soort
mense ons wil wees. Hierdie vrae lei ons dan anderkant die
gewonder waarheen ons gaan, wanneer ons doodgaan.
Dit lei ons na ‘n lewe wat nie eindig nie! Nie eens die dood kan
lewe in Jesus se koninkryk doodmaak nie!

Daarom maak die volgelinge van Jesus soos God wil hê.
Dit is die punt wat Jesus hier vir Petrus wil maak. En ook vir sy
ander volgelinge deur die eeue. Onthou dit is altyd God se
manier van doen wat jy kies, en dit is soms regtig moeilik,
maar dit maak die lewe regtig betekenisvol!
Daar is duisende ander paaie, makliker paaie, om te loop as
God se pad van liefde. Maar wie soek makliker paaie as jy weet
God se pad bring ewige geluk, en vrede, en vreugde!

Ernest