“En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit.
Dit is vir jou beter om met een oog in God se
koninkryk in te gaan, as om met twee oë en al
in die hel te beland waar die wurm nooit doodgaan
nie en die vuur nooit geblus word nie.” – Markus 9:47-48.

Mark Twain het gesê: “I would like to go to Heaven for the climate,
but would probably prefer Hell for the companionship.” Dit was ‘n
pittige sê-ding, maar dit mis die punt totaal. Sonde is nie ‘n grap nie.
Sonde is hel. God haat sonde. Hel beteken ewige skeiding van God.
Dit opsigself val eintlik buite ons denkraamwerk. Om God-verlate te
wees.

Niemand het sterker oor die hel gepraat as Jesus self nie. Die liefdevolle
Seun van God. Hel was die naam van die vullishoop net buitekant Jerusalem.
‘n Plek wat jou maag laat ruk het van die stank. Maar dit opsigself raak nog
nie eers aan die toestand in die hel nie. God is nie daar nie. God haat dit.
Jesus sê jy moet nooit daarheen neig nie. Vermy sonde! Dit lei daarheen.
‘n Ou oom het aan mense by die kerk gesê: “Moenie stop om die duiwel op
te laai as hy ‘n geleentheid vra nie. Moenie die motor by hom stop nie.
Moenie die deur oopmaak nie. Moenie hom inlaat nie. Kort voor lank gaan
hy die stuurwiel van jou lewe oorneem.”

Let daarop dat Jesus hoofsaaklik oor die hel met sy dissipels en godsdienstige
leiers van sy tyd gepraat het. Met mense wat soekend was het Hy altyd oor
die liefde van God en die hemel gepraat. Ons is geneig om mense wat ongelowig
is met die hel te dreig. Jesus het dit nie gedoen nie. Hy het eerder met mense
wat soekend is oor God se liefde en die hemel gepraat.

Vermy die hel. Vermy sonde. Fokus op God se liefde en genade.
Wees die persoon wat God jou geskep het om te wees.
Leef vir Hom en saam met Hom!

Ernest