“Toe roep Jesus sy dissipels en die skare na Hom toe en
sê vir hulle: “As enigeen van julle my volgeling wil wees,
moet julle julle eie, selfsugtige ambisie prysgee, julle kruis
opneem en agter My aan kom.” – Markus 8:34.
Jesus is besig om met mense te praat oor hoe ‘n mens Hom
volg. Dit gaan nie oor eendag en die hemel nie, maar oor die
hier en nou! Dit is so anders as die boodskap van die wêreld
wat klem lê op sukses, lere wat geklim moet word en doelwitte
wat uiteindelik eendag bereik moet word. Dit is selfs anders as
mense wat net sit en wag om “hemel toe te gaan”. Jesus wil
dat ons nou ons kruis opneem en Hom in die hier en nou volg.
Dit is dan reeds in die hier en nou ‘n ewige soort sukses.
Goddelike sukses. Want die Heilige Gees werk in die hier en
nou, deur jou.
Kruisdra beteken in Jesus se woorde dat ons onsself sal
verloën en dat sy wil die allerbelangrikste doel van ons lewe
sal wees. Dit beteken dat ons in sy Naam ander sal dien en nie
oor en op ander sal klim om óns doelwitte te bereik nie.
‘n Amerikaner, Max de Pree, vertel hoe hy by die plaaslike
tennisklub opgedaag het en ‘n deurmekaar kleedkamer gevind
het nadat ‘n groep hoërskool leerlinge daar geoefen het. Hulle
het glad nie opgeruim nie en orals het handdoeke rondgelê.
Sonder om twee keer te dink het Max alles opgeruim.
‘n Vriend van hom het hom stilweg dopgehou en uiteindelik
gesê-vra: “Max, tel jy handdoeke op omdat jy die hoof van ‘n
maatskappy is? Of is jy die hoof van ‘n maatskappy, omdat jy
handdoeke optel?”
Vandag se teks vra van jou: Dien jy ander omdat jy ‘n volgeling
van Jesus is, of is jy ‘n volgeling van Jesus omdat jy ander dien?
Kan mense uit jou dade sien jy is ‘n Jesus volgeling?
As jy ander dien omdat jy eersgenoemde is, m.a.w. omdat jy ‘n
volgeling van Jesus is, is dit iets wat jy nie van nature sou doen nie.
Maar nou doen jy dit wél net omdat jy ‘n volgeling van Jesus is.
As jy egter ‘n volgeling van Jesus is omdat jy ander dien, raak dit
deel van jou DNS. Dit is jou identiteit in Christus en die mens wat
jy in Hóm is. Jy leef meer en meer soos Hy. Want Hy leef in jou.
Dietrich Bonhoeffer het gesê: “Wie Jesus se voorbeeld wil volg,
moet besef dat diens aan God en diens aan die nederigste
medemens vir Hom een en dieselfde ding is.”
Dien soos Jesus dien. Hy is ‘n Leier, ‘n Koning, wat dien,
wat sy dissipels se voete gewas het en sê dat ons ook so
moet dien - Johannes 13:15.
Ernest