In Jeremia 16:19 beklemtoon Jeremia Wie sy sterkte is:
“Here, my Sterkte, my Beskermer,
my Toevlug, in tyd van nood...”
Jeremia self was menslik gesproke baie sterk.
Hy het reusemoed geopenbaar.
Hy het die mense trompop uitgedaag!
Die politici. Die profete. Die priesters. Die volk.
Niemand van sy tyd het die appel van God,
deur Jeremia, vrygespring nie.
Hy was bereid om vervolg te word,
vir sy gehoorsaamheid aan God.
Tog was hy ook by geleenthede droewig.
Eensaam. ‘n Introvert. Praat hy van “...in tyd van nood...”
Maar tog was hy taai. Sy grootste krag het daarin gelê
dat hy geweet het waar sy krag vandaan kom.
Nie uit homself nie, maar van God.
Paulus het dit ook beklemtoon.
Wanneer hy swak is, is hy sterk!
2 Korintiërs 12:9: “My genade is vir jou genoeg.
My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Jeremia kon nie in eie krag teen die leiers en mense stry nie.
Weet jy waar jou krag vandaan kom?
Waarskynlik sê jy: “Ek weet!”
Vraag is of jy in daardie krag optree? Nie net of jy dit weet nie.
Wat doen jy in die krag van die Here?
Is jy, soos Jeremia, gehoorsaam aan die opdrag van God?
Jy sal selfs sterker wees, en sterker optree,
indien jy nou doelbewus doen wat God van jou vra,
ongeag die teenstand van die leiers en mense waar jy leef!
Jy sal wyser wees, en nederiger, en juis daarom sterker!
Jy sal jou krag gebruik tot eer van Hom wat dit aan jou gegee het!
Jy sal sy Naam grootmaak en mense sal voor sy gesag en mag buig.
Die enigste manier om in Christus sterk te word,
is deur in jouself swak te word. Dink daaroor na.
Ons sien dit in die lewe van Jeremia, en ook in die lewe van Paulus.
Mag ons dit ook in ons eie lewe sien en ervaar, as werklikheid!
Ernest