Christus het onder moeilike omstandighede geleef.
By geleentheid sê Christus in Lukas 9:58:
“Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van
die mens het nie eers ‘n rusplek vir sy kop nie.”
Johannes 1:10 sê dat die wêreld Hom nie erken het nie.
Vers 11 sê sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.
Jesus weet ook dat Hy op pad na die kruis is, deur helse lyding.
Ons weet van sy bloedsweet in Getsemane.
Hoe Hy verloën en verraai is. Sy lyding en kruisdood.

Tog is daar in sy lewe ‘n kalmte en diep insig daarin dat God
in beheer van dit alles is, en Hom nie in die steek laat nie.
Daar is geen gejaagdheid in sy optrede nie.
Hy toon deernis en begrip vir mense.
Hy gee om en kry hulle jammer. Hy veroordeel nie.
Hy lei hulle met insig en wysheid.
Sy gesindheid teenoor mense is een van teerheid en liefde.
Hy is geduldig en vergewensgesind, verdraagsaam.
Dit alles onder die moeilikste omstandighede van verwerping
deur die leiers en mense van sy tyd wat skree: “Kruisig Hom!”

Christus se vermoë is gebore uit sy verhouding met sy Vader.
Hy weet dat sy Vader volkome in beheer is.
Hy is onvoorwaardelik gehoorsaam aan sy Vader.
Christus is ons rolmodel wanneer ons leef uit die waarheid
dat God in beheer is van ons totale lewe.
Volg Jesus met die wete dat God in beheer is.
Volg Hom as jou rolmodel sodat Hy jou kan gebruik
as sy instrument waar jy leef en werk in hierdie lewe.
Jesus se hele lewe is die toonbeeld van ‘n lewe wat
geleef word met die wete dat God in beheer is,
ongeag watter omstandighede ook al. Van krip tot kruis!
Volg Jesus so as jou rolmodel.
Jy weet God is in beheer!

Ernest