Ons kan hoé lank in die geselskap van Jesus wees
en om die een of ander rede nie naastenby verstaan
wat Hy leer nie. Ons het dit hoevele kere in die Woord
al gelees oor Jesus se eie dissipels.
In Handelinge 1:6 lees ons dat die dissipels aan Jesus vra:
“Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer
gaan oprig?” Hulle verstaan nie. Ons doen dit vandag nog.
Ons dink aan ons eie koninkryke, meer as aan God se koninkryk.
Ons kyk soos na ‘n groot bos en sien net ‘n paar bome raak.
Net ‘n paar waarhede. Dit is goed. Maar daar is die groot bos met
baie bome, die oneindige groot bos van Goddelike beplanning en
waarhede wat nie tot ons deurdring nie. Ons dink en sien net so
ver as wat ons kán dink of wíl sien. Partykeer nie eers so ver nie!
Ons sien so min van die groot misterie van God.
Die begrip “koninkryk van God” was selfs vir die dissipels te groot.
Hulle dink nog aan die koninkryk soos dit onder Dawid gelyk het.
Hulle vra ook of dit “in hierdie dae” gaan gebeur.
Jesus is inderdaad besig om ‘n koninkryk op te rig. Maar dit is
‘n koninkryk van gelowiges wat ver oor hulle grense sou skuif.
Dit is vreemd dat die dissipels, wat Jesus se daaglikse leerlinge was,
so met die koninkryk-begrip gesukkel het.
Selfs die misdadiger aan die kruis het iets daarvan gesnap toe hy
gevra het “dink aan my wanneer U in u koninkryk kom”. Dalk is ons
net te besig met ons eie koninkryke. Ons eie belange. Daarom dat
ons so min laat kom van die koninkryk van die Here in ons lewe en
rondom ons. Die misdadiger se eie belange was tot niet. Hy is aan
die kruis en hy is sterwend.
Kom ons dra doelbewus die koninkryk van God uit oral waar ons leef.
Bou dit uit. Ons is onderdane van die Koning van alle konings en burgers
van die koninkryk van God. Laat ons lewe dit getuig!
Ernest