“Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor
julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem
sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot die
uithoeke van die wêreld.” – Handelinge 1:8.
Waar die streek van Samaria in die tyd van die dissipels
was, is daar deesdae verwaarlosing en ellende...tog was
dit vir die evangelie die volgende landmerk na Jerusalem.
Jerusalem self sou ‘n stad van konflik word en is dit eintlik
vandag nog!

Die evangelie het egter inderdaad die uithoeke van die
wêreld bereik, soos Jesus dit gestel het. En steeds dra
Christene dit na al die nasies. Dit was en is steeds ‘n wonder
van God.

Dit kan net die krag van die Heilige Gees in volgelinge van
Jesus wees wat dit bewerk het, en steeds bewerk.
Die Griekse woord vir hierdie “krag” is as’t ware “plofkrag”.
Dinamiese krag. Jesus sê ook verder dat die mense wat die
draers van hierdie krag is, sy “martures” sou wees, sy bloed-
getuies. Vir baie volgelinge sou dit letterlik so wees. Hulle sou
martelare vir Christus wees in ‘n wêreld wat steeds nie oral die
boodskap van God verwelkom nie. Vandag nog betaal mense
met hul lewe vir hulle geloof in Christus!

Tog kan ons so maklik die dringendheid om die boodskap van
God uit te dra verwaarloos. Wanneer Jesus met sy hemelvaart
na die Vader gaan, kry ons die opdrag om uit te gaan!
Die dringendheid lê in Jesus wat weer sal kom! In die tyd voor
die wederkoms moet ons elke geleentheid uitkoop om die
evangelie uit te dra.

Met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag word
ons toegerus om dit te kan doen. Nou moet ons verseker “gaan”!
God sou van nou af in al die tale kommunikeer Wie Hy is! God sou
voortaan deur die Gees in almal woon wat in Hom glo! Die krag
van die Heilige Gees in ons! Hierdie krag deur die Gees, in ons,
lei ons, bewaar ons. Ons is gereed vir elke dag se opdrag van
God...in die krag van God!

Ernest