Handelinge 2:21 sê: “So sal dit dan wees:
elkeen wat die Naam van die Here aanroep,
sal gered word.” Vanaf die dag wat die Gees van
die Here op Pinksterdag uitgestort is op die gelowiges,
het die koninkryk van God in ‘n hoofbaan begin beweeg.
God is op pad met sy hele wêreld. In sy toespraak op
Pinksterdag staan Petrus op en “onder leiding van die Heilige
Gees” skets hy die plan van God met die wêreld. Sy boodskap is:
“Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”

Deur die eeue het mense ekstra kwalifikasies vir Christenskap
hierby probeer byvoeg. Of weggeneem. Die Pous het in die 16e eeu
aflaatbriewe verkoop. Om sogenaamd siele op die pad na die hemel
te help. In die 18e eeu van verligting, die sogenaamde “Aufklärung”,
is gereken dat redding nie nodig is nie en dat Christus bloot nog ‘n
profeet is.
Daar is mense wat dink ‘n Christen wat “gered” word, is een wat goeie
dade doen. Petrus sê niks van bogenoemde sienings nie. Hy sê Jesus is
die Here, en elkeen wat Hom aanroep, sal gered word.

‘n Christen is dus iemand wat gedurig na Iemand roep. ‘n Christen is
iemand wat op pad is, en wat iets in sy hart het van wat die koers van
die pad is. Die koers word bepaal deur die Een wat aangeroep word.
‘n Christen is onrustig buite hierdie teenwoordigheid van die Een wat
aangeroep word. ‘n Kind van God vra gedurig na die koers van die Here.
Hy weet dit sal uitloop op ‘n ontmoeting van aangesig tot aangesig met
die Een wat die koers aandui. Kinders van die Here het ‘n bestemming.
Christene is nie noodwendig beter as ander nie. Hulle is egter ingelig oor
die uiteindelike sin van die lewe, en roep die Naam aan van die Een wat
hulle die lewe gee!
Roep die Naam van die Here aan, en jy sal gered word!

Ernest