DIE HERE VUL ONS MET VREUGDE

Die Here se teenwoordigheid in ons lewe, vul ons met vreugde.
Handelinge 2:28 haal Dawid aan wat reeds in Psalm 16 gesê het
“…U teenwoordigheid sal my met vreugde vul.”

Mense het uiteenlopende idees van geluk en vreugde.
Gerieflike huise. Tevrede gesinne. Rykdom. ‘n Warm maaltyd as jy
op straat is. Warm klere en ‘n kombers as jy in winterkoue worstel.
Dit is verstaanbaar. Die wat het wil meer hê, en die wat niks het nie,
wil selfs net ‘n bietjie hê.

Geluk en vreugde het ander kwaliteite. Dawid het gereeld in die
Psalms daarna verwys. Daarom dat Petrus dit hier in sy toespraak
aanhaal. Wanneer Jesus sy blydskap en vreugde oordra aan die dissipels,
het Hy iets in gedagte wat ook Dawid in gedagte gehad het:
die vreugde van die teenwoordigheid van Iemand wat jy liefhet, en wat jy
ook weet jou liefhet. God self. Deur sy Gees. Jesus breek brood wanneer
Hy dit oordra. Hy weet dat sweepslae op Hom wag, en ‘n doringkroon.
Spykers deur sy hande, en ‘n spies in sy liggaam. Nogtans praat Hy van sý
vreugde en blydskap wat in ons sal wees.

Die vreugde van ‘n kind van die Here is dikwels net so onverstaanbaar
soos vir die dissipels tydens die laaste maaltyd saam met Jesus voor sy
kruisiging. Nou verstaan Petrus dit beter, hier in Handelinge,
en kan hy Dawid aanhaal: “U teenwoordigheid sal my met vreugde vul.”
Beleef doelbewus in die teenwoordigheid van die Here in jou lewe,
en leef uit die vreugde daarvan!

Ernest