In Handelinge 2:44 lees ons dat die gelowiges in die
eerste gemeentes eensgesind was en alles met mekaar
gedeel het. Daar was seker baie ekstase en die bruising van
nuwe opwinding oor die handelinge van God met sy mense.
Eensgesindheid en opoffering was aan die orde van die dag.
Gelowiges het selfs hulle besittings met mekaar gedeel en elke
dag in die tempel aanbid. Die eerste Christene wou mekaar werklik
help. Dit was nog altyd besondere tye, die in die lewe van die eerste
Christene. Openbaringstye van wonders en weldadigheid. Ons moet
daarna bly streef om onder leiding van die Heilige Gees so te leef.

Ons lees ook verder aan in Handelinge 3 hoe Petrus en Johannes op
pad tempel toe was en toe ‘n kreupele raakloop wat by hulle bedel.
Petrus sê dan duidelik vir hom dat hy nie geld het nie, maar iets beters
vir hom kan gee! Herstel in die Naam van Jesus Christus! Vers 6:
“Geld het ek nie, maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus
Christus van Nasaret, staan op en loop!” Vers 7 sê verder: “Hy vat toe
die man se regterhand en help hom op, en onmiddellik het sy voete en
enkels sterk geword.” Die mense was verwonderd!

Die waarheid van mededeelsaamheid, van getuienis en liefde in die Here,
van empatie en meegevoel, is alles deur Jesus beklemtoon, en is nog steeds
blywend tot vandag! Ons het dikwels ook, soos Petrus en Johannes, nie geld
om te gee nie. Maar ons het juis soveel meer! Net soos hulle.

Ons kan ook soos Petrus juis gee van dit wat ons in oorvloed het. Die liefde
en omgee van die Here. Die getuienis van Wie die Here is deur woord, en
juis ook deur daad! Ons het dikwels iets in ons beursie ook. Maar ons gee juis
omdat dit die maklikste is om van die persoon “ontslae” te raak.

Liefde en betrokkenheid in die Naam van die Here vra meer, maar gee juis
ook oneindig meer! Gee wat jy kan, van wat jy het. Maar gee ook baie meer.
Gee dit wat lewe gee. Vat iemand se hand en help hom of haar op. Soos Petrus
gedoen het. So sal die genesende krag van God ook tot in daardie persoon se
lewe kom! Die Here wil dit deur jou doen. Gaan staan stil in jou haastige lewe,
by iemand wat dringend die Here nodig het, deur jou. Al is jy soos Petrus en
Johannes op pad om God te gaan aanbid.
Hy is ook saam met jou op pad verby mense wat jou pad kruis.
Gaan staan stil, saam met die Here, daar by hulle

Ernest