Petrus is die man wat Jesus verloën het.
Bang, daar by die vuur, dat hulle hom sou herken.
Nou staan dieselfde Petrus in Handelinge 3 voor die
mense en getuig met krag van die Gees! Hy is oortuig
van sy saak, van skuld en onskuld, van reg en verkeerd.
Skielik kan hy mense beweeg om te luister. Hy was nie
net drie jaar lank aan die voete van die Leermeester van
alle tye nie. Hy getuig nou juis ook deur die Gees!
Die Joodse Raad wil weer stilmaak! Petrus het die kreupele
genees, en die Joodse Raad spring weer rond, net soos met
die verhoor en dood en opstanding van Jesus.
Weer is ongeleerde en eenvoudige manne besig om hulle in
‘n hoek te druk. Om hulle gesag aan te tas. Petrus hulle sê
duidelik: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is.
Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons
gesien en gehoor het nie.” – Handelinge 4:19-20.
Hierop het die Joodse Raad besluit om Petrus en die kreupel
man wat gesond geword het te laat gaan. Hulle sou met vuur
speel as hulle dit nie gedoen het nie, voor ‘n skare wat besig
was om God te prys!
God werk deur sy Gees in sy getuies. Verseker.
In alle omstandighede. Eeue later sou dieselfde tipe gebeure
voor die imperiale kongres van Worms afspeel toe ‘n 34 jarige
jong monnik, Martin Luther, voor keiser Karel V geroep is oor
sy “onrusstokery” teen die pous. Op die eerste dag het dit gelyk
of hy, oorweldig deur die keiser en prinse, aan die weifel was.
Op die tweede dag het hy eerbiedig gesê:
“Hier staan ek, ek kan nie anders nie. God help my.”
Die vet van die Hervorming was in die vuur! God was aan die
werk deur hom. Die Heilige gees was in hom aan die werk.
Al het dit gelyk of hy alleen staan voor al die hooggeplaastes.
Een of ander tyd in ons lewe staan elkeen van ons “alleen”.
Wanneer ons daar staan vir God, en vir die eer en saak van God,
Staan ons verseker nie alleen nie, en sal God deur sy Gees ons help.
‘n Kind van God staan nooit alleen as hy staan in die naam van God
en vir God se saak nie. God sal saam met jou staan in die waarheid.
Jy staan saam met God... Die Heilige gees lei in die waarheid!
Staan op vir die waarheid en getuig, kragtig deur die Gees!
Ernest