Hosea sê dit al in Hosea 6:6:
“Want Ek verwag liefde eerder as offers,
toewyding aan My, eerder as brandoffers.”

 

Jesus kom beklemtoon dit in Matteus 12:7
“Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.”

 

‘n Vrou wat na uie en sop ruik, gee haar tiende vir die kerk.
Dit is min, soos gewoonlik, maar dit is wat sy het.
‘n Sakeman plaas haastig sy bydrae elektronies oor.
Dit is ‘n aansienlike bedrag.
Hy dink dit behoort genoeg vir die kerk te wees vir die maand.
‘n Ander man gee gou iets uit sy sak, sy gatsak,
want hy het nie beplan om te gee nie……half verleë.

 

Die weduwee maak vir die straatkinders sop, uit haar eie sak.
Die sakeman het jare laas by iemand se leed uitgekom.
Hy gee sodat die “kerk” dit kan doen. Hy is net te besig.
Die man wat uit sy gatsak gee, is nog kind op die pad van selfversaking.

 

Offers.
Offertyd is nie elektroniese banktyd nie.
Of iets uit my gatsak uit nie.
Offertyd is liefdetyd, barmhartigheidstyd.

 

Praktiese Christelike liefde,
wen meer mense vir die koninkryk van God,
as godsdienstige ywer, of teologiese geleerdheid.

 

Kyk net wat skryf die geskiedskrywer Flavius Josephus(37-101)
reeds baie vroeg oor die eerste Christene:
“As hulle van iemand weet wat arm of honger is,
en hulle het self nie iets ekstra om te gee nie,
sal hulle twee of drie dae lank vas, sodat hulle die persoon in nood,
ten minste met die nodige kos kan help.”

 

Hoe en wat offer jy?

 

Ernest