Handelinge 5:16: “Daar het ook baie mense van die dorpe
in die omgewing van Jerusalem af gekom en siekes gebring
en mense wat onder bose geeste gely het. Hulle is almal
gesond gemaak.”

Dit moes wonderlik gewees het vir Lukas, die skrywer van
die boek Handelinge, om getuie te wees en te verneem
van so baie genesings. Hy was immers self ‘n geneesheer.
Die meeste dokters deur die eeue aanvaar nie sommer
wondergenesings nie. Te verstane. Daar was ook baie
getuienis oor hoe die Heilige Gees aan die werk was en
hoe die boodskap hier uitgedra is, soos Jesus beloof het.

Hier kort na Pinkster en die uitstorting van die Heilige Gees
het God aan die mense kom wys waaroor die koninkryk van
God gaan. Om heel te maak. Om gebrokenes te help.
Om soekendes te red. Om hulpeloses tegemoet te kom.
Liggaamlik en emosioneel, en geestelik. Daar kom tye wat
God so optree, en ook tye waarin Hy ons leer om van dag
tot dag afhanklik van Hom te leef. Juis om ons te laat groei
daarin.

Ons kan nie God se “begroting” verstaan of met God
“arm druk” daaroor nie. Daarom bid ons ook:
“..laat U wil geskied...”.
Net soos ‘n kind nie altyd kan verstaan hoekom hy of sy
nie altyd by die ouers kry wat hulle wil hê nie. Dit gaan
dikwels met ons ook so.
Kan ons regtig sê dat God ons nie seën nie,
of minder seën in sekere tye?
Kan ons praat van oorvloedige tye van seën,
en skaars tye van God se seën?
God het ons lief en seën ons oorvloedig.
Besef dit, glo dit.
Leef elke te midde van God se seën!

Ernest