Vinnig het die apostels teenstand gekry. Die hoëpriester
en al die ondersteuners wat aan die party van die Sadduseërs
behoort het, is met afguns vervul en het besluit om in te gryp.
Handelinge 5:18 sê: “Hulle het die apostels oop en bloot laat
vang en in die tronk gestop.” Die Joodse Raad het nou genoeg
gehad van die verkondiging van Christus. Voor sy dood het hulle
van Jesus probeer ontslae raak, en weer is Hy ‘n bedreiging vir hulle,
deur sy volgelinge! Benoude bokke maak benoude spronge!
‘n Engel maak die tronkdeure in die nag oop, en die volgende oggend
leer die apostels weer die mense in die tempel! Weer is die Joodse
Raad hoogs ontsteld. Petrus hulle sou hulle nie laat stilmaak nie, en die
Here word nie ingeperk nie. Om vir Christus te getuig is nie net maanskyn
en rose nie. Die wêreld sal ons nie net met ope arms ontvang nie.
Dan staan ‘n man in wysheid op. Gamaliël sê in Handelinge 5:38-39 wat
sy raad aan die Joodse Raad is: “Wat die huidige geval betref, my raad
aan julle is: Laat staan hierdie mense en laat hulle los, want as wat hulle
wil en wat hulle doen, mensewerk is, sal daar niks van kom nie. Maar as
dit van God kom sal julle hulle nie kan keer nie. Moenie dat dit later blyk
dat julle selfs teen God gestry het nie.” Groot woorde van wysheid.
Wysheid is ‘n skaars artikel. Dit was selfs so onder die geleerde Fariseërs.
Ons leef in tye van die ontploffing van kennis, en informasie-tegnologie.
Maar net soos met die Fariseërs, kort ons die wysheid, wat so skaars is.
Wysheid is anders as kennis en inligting. T.S. Elliot sê dat ons juis met ál
ons baie kennis, die wysheid en die lewe êrens verloor het:
“Where is the Life we have lost in living?
Where is the wisdom we have lost in knowledge?
Where is the knowledge we have lost in information?”
In Gamaliël praat ervaring, insig en verstand saam. Hy het al sien
kom en gaan. Los hierdie mense uit, sê hy, want as wat hulle doen
bloot mensewerk is, sal dit gou verbygaan. Maar as dit van God is,
sal niemand dit keer nie.
Na al die eeue probeer mense steeds die wysheid van God
keer omdat dit nie ooreenstem met húlle kennis en insig nie.
Dit speel as’t ware af teen die “kennis-ontploffing”.
God se wysheid is altyd oral aan die werk.
Mag Hy vir ons die wysheid gee om met niks op loop te sit en
ons deur niks laat onderkry wat nie van God af is nie. Ons moet
leer om die waarheid sy loop te laat neem:
Die waarheid van God se teenwoordigheid,
die Léwe in die lewe.
Ernest