Vir eers, vanaf Handelinge 5, was die apostels klaar met
die Joodse Raad en geleerdes. Hulle het oral in die tempel
en in huise “die evangelie verkondig dat Jesus die Christus is”
– Hand. 5:42.
Dit is die eenvoudige grondwaarheid van die evangelie!
Dink ook nou aan die ironie binne hierdie konteks:
die “kerk” is in die “wêreld”, en die “wêreld” is in die “kerk”.
Heel gou het daar dispute ontstaan, soos dat sommiges in die
gemeente “onregverdig” versorg is. Griek-sprekende weduwees
is blykbaar tekort gedoen. Sewe diakens word aangestel, hande
opgelê, en moet die versorging doen terwyl die apostels die
evangelie verkondig. Niks met rangorde te doen nie.

Maar gou gaan die moeilikheid voort. Stefanus, een van die
diakens, beland in ‘n stryd met die hoëpriester en die Joodse
Raad. Hulle luister eers na hom, oor die hele heilsgeskiedenis
vanaf Abraham tot en met die profete.
Dan kom die verdoemende vraag aan húlle wat hul so toelê
op die wet en die profete, die vraag wat hulle omkeer:
Was daar al ooit ‘n profeet wat nié deur julle voorvaders
vervolg is nie? ‘n Mens kan tereg nie eintlik aan so iemand
dink nie! Al die mense van God het met weerbarstigheid,
ongeloof en selfs vervolging te doen gekry.
Aan die begin was dit verset teen die wet. Daarna het hulle
weer die wet vergoddelik, uit vrees vir ‘n tweede ballingskap!

Deur die geslagte gaan dit so. Die mense praat saam met die
mode-politiek en mode-godsdiens van die dag. En wee die een
wat met God in sy hart begin vrae stel oor gewone daaglikse
dinge wat verkeerd is. Sodra dit te naby aan ons lyf kom, hou
ons nie daarvan nie, en kom in “opstand” teen die vrae en kritiek.

Waarskynlik het Stefanus hulle te hard bygekom met sy tong.
Die waarheid het net te seer gemaak. Hulle was woedend en het
op hulle tande gekners, volgens vers 54. Maar die waarheid maak
altyd seer as jy skuldig is. Ons weet dit. Die vraag is hoe ons daarop
reageer?
Die groot reël geld altyd: Dat jy eers die oordele wat jy oor ander
uitspreek, onder leiding van die Heilige Gees oor jouself moet uitspreek.
Die profete van die Here het dit deurgaans gedoen. Die ware profete.
So ook Stefanus. En uiteindelik “seëvier” die Here en sy Naam!
Vra die Here om deur sy Gees jou in jou optrede te lei. En wanneer jy vir
die Naam van die Here opstaan, doen dit onder leiding van die Heilige Gees.
Nie ter wille van jouself nie. Nooit nie. Maar ter wille van die Here!

Ernest