Wanneer Stefanus die evangelie van Jesus Christus
verkondig, kry hy geweldige teenstand en reaksie.
Die Joodse Raad was woedend en het op hulle tande
gekners. Hulle het hulle ore toegedruk en op Stefanus
afgestorm en hom by een van die stadspoorte gestenig.
Geleerde en geëerde mense kan ook barbaars raak as
hulle oortuiging bevraagteken word...
Toe Billy Graham se vrou ‘n Christelike klub by haar “liberale”
universiteit wou stig, moes sy hoor dat sy aanstoot gee!
Soms is mense so gesteld op die vryheid van hulle eie oortuiging,
dat nét hulle eie oortuiging eintlik vryheid het!

Stefanus sterf onder die klippe van sy eie oortuiging en geloof.
Merkwaardig is sy belewenis en reaksie op hulle wat hom teregstel.
In sy laaste oomblikke is dit nie die woede van sy vervolgers, en hulle
klippe wat op hom reën, wat oorheers nie, maar die realiteit van ‘n
opening in die hemel en sy uiteindelike bestemming. God is by hom!
God skeur as’t ware op daardie oomblik deur ruimte en tyd en dimensies.
Hy help en vertroos sy getuie met ‘n hemelse visie!

Kyk net wat is Stefanus se reaksie in Handelinge 7:60:
“Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle
tog nie hierdie sonde toereken nie.” Met hierdie woorde het hy gesterwe.”
Dit gaan nie vir Stefanus oor homself nie. Dit gaan oor die Here, en mense
wat tot redding in Christus moet kom! Stefanus sterf met woorde van
vergifnis op sy lippe! Dit herinner aan Jesus se woorde aan die kruis:
Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie...

Wat is ons reaksie op weerstand en veroordeling? Wie staan sentraal in
ons getuienis, en reaksie op die weerstand van die wêreld?
Kom ons verootmoedig ons om werklik met liefde, ontferming en vergifnis
teenoor mense op te treë wat ons getuienis vir Jesus Christus weerstaan.

Ernest