Daar staan treffend in Handelinge 8:1 oor die
dood van Stefanus, die eerste martelaar vir Christus:
“Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur.”
Handelinge 7:58 sê: Die getuies het hulle klere
neergesit by ‘n jongman met die naam Saulus.”
Anselmus van Canterbury het oor die gedrag van sommige
priesters gesê: “Priesters is maar soos mense, en mense is
soos mense, sommige net méér so.”
Saulus was so ‘n jong geleerde Fariseër. Wanneer hy die
mense vervolg het, het hy dit erg gedoen. Wanneer hy sterk
was, was hy sterker as ander. Wanneer hy nederig was, was hy
meer nederig as ander. Wanneer hy gebuig het, het hy laer gebuig
as ander. Intens mens.
Hy is getuie van Stefanus se dood. Hy self vervolg die eerste gelowiges.
Hy self sou die groot getuie van Jesus se opstanding word. Hy sou die
evangelie “interpreteer” aan mense. Hy word God se man.
Hoe het dit gebeur? Hy het gehoor wat Stefanus in sy sterwe gesê het.
Dit moes Paulus geskud het. Die kerkvader Origenes het gesê:
“As Stefanus nie uitgeroep het nie, sou die kerk nie vir Paulus gehad
het nie.” Maar meer moes gebeur, want Handelinge 8:3 sê Saulus het
die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en
vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit. Die Here self sou Saulus
voorkeer op pad na Damaskus, en hom op daardie pad ook omkeer!
‘n Vurige man op pad na grootheid as geleerde en yweraar vir die wet en
tradisie. En ook op pad na selfvernietiging. Juis hóm sou God voorkeer.
Saulus sou verander na Paulus, ‘n totale omkeer!
Eeue later sou Calvyn ook deur Genève vlug na Italië. In Genève het
God sy koets gekeer. Daar het Farel met hom gepraat en gesê:
“Die Here wil jou hier gebruik.” Calvyn het gebly en God hét hom gebruik.
God hét hom bemeester, met sy humeur, oorywer en al...!
Dit is ‘n deurlopende tema in die Bybel, naamlik hoe die Here op die regte
oomblik, die regte mens op die regte plek gereed het! God is groot in sy
werke met ons, hoe Hy ons aanwend tot sy eer. En dan werk Hy dikwels
ook op vreemde maniere deur ons. Hy trek ‘n reguit lyn met ‘n baie krom
stok. Hy sien in Saulus ‘n soekende mens. Hy sien ook in jou en my genoeg
om ons tot sy eer en die uitbreiding van sy koninkryk aan te wend.
Saulus en jy is vir Hom ewe belangrik! Die verandering is ewe groot!
Ernest