Die vervolging van die gemeente in Jerusalem het ook
met geweld losgebars. Die gelowiges het vinnig padgegee
en Handelinge 8:4 sê: “Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is,
het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig.”
Ons wil amper uitroep “halleluja!”

Min het die vervolgers besef dat hulle die saad van die evangelie
wyd sou saai! Wêreldwyd. Die gelowiges sou nie mekaar sit en
warm broei in Jerusalem nie, maar die evangelie soos ‘n veldbrand
in groot wind laat hardloop! Hulle het ook allerhande wonders gedoen
en die mense het geglo. Petrus en Johannes het in Samaria gaan werk.

Maar...daar was nog ‘n man in Samaria met ander motiewe. Simon.
Hy het hierin ‘n kans gesien om sy eie aansien te versterk. Simon het
ook “gelowig” geword nadat hy voorheen “Samaria met sy toorkunste
verstom het” – vers 9. Hy wou vir Petrus geld gee om ook die gawe van
handoplegging by sy ander “gawes” te voeg, om die Gees aan mense
mee te deel. Dit sou ‘n wonderlike stukkie “toorkuns” tot sy arsenaal
toevoeg. Die Gees van God is egter nie aan te wend vir eie gewin nie!

Dit help nie om min of meer gelowig te wees en dan die evangelie vir
eie gewin of gewildheid “aan te wend” nie. Petrus roep hom op om
hom te bekeer en Simon skrik so groot dat hy voorbidding vra dat
“niks hom tref nie” – vers 24.

Ons diens aan God moet op geen manier op onsself gefokus wees nie.
Ons moet onsself opreg hierin toets onder leiding van die Heilige Gees.
Regtig! Ons ervaar te veel geleenthede waar mense die ontvangers van
die goeie boodskap van die evangelie, eerder op hulleself fokus, as op
die Here van die boodskap en die wonderwerke.
Ons kan ook baie maklik met bedieninge besig wees waar erkenning
aan ons, en dank aan ons, belangriker geraak het as die erkenning,
dank en eer aan God. Ons moenie net eervolle vermelding aan God
gee nie. Hy doen letterlik alles! Ons kan nie eers asem haal sonder
Hom nie!

Die Gees van die Here kom op sy eie manier na die mense wat Hom
opreg aanroep, en die Here werk soos Hy wil wanneer Hy wil. Ons kan
nie die Here “in die Naam van die Here” opdragte gee nie!
God is teenwoordig by ons. Maar Hy werk kragtig ook deur dit wat
ons nie eers kan sien, hoor of beleef nie.

Ons moet onsself toets. Toets jouself onder leiding van die Heilige Gees.
Wie staan regtig in die middelpunt van jou bediening en van wat ookal
jy doen?

Ernest