God werk nie altyd soos ons dink en beplan nie.
God werk eintlik meestal buite ons verwysingsraamwerk.
God doen baie meer as wat ons dink, sien of hoor.
Ons sien dit ook in die gebeure van Filippus wat die man
van Afrika se pad kruis. Filippus word deur God gestuur
op ‘n “stil pad” van Jerusalem na Gasa. Filippus is eintlik
op pad na groter dorpe om die evangelie te verkondig,
nou stuur God hom op ‘n stil pad – Handelinge 8:26.
Wat Filippus nie weet nie is dat daar op hierdie pad ‘n
hoë finansiële amptenaar van ‘n koningin van Etiopië is!
Hy was ‘n sogenaamde “proseliet van die poort”,
met ander woorde, iemand wat aan die leer was in die
Joodse geloof. Hy was in Jerusalem vir ‘n Joodse fees
en is nou weer op pad.
Filippus kon seker nie verstaan hoe die Here hom kan
wegneem van “herlewing” na ‘n stil pad nie...!
Hierdie man van Afrika bestudeer die Skrifte, maar
verstaan nie wat hy lees nie. Wanneer Filippus by hom
opdaag, wil hy weet wat die profeet Jesaja bedoel het met
“soos ‘n skaap is hy gelei om geslag te word” - vers 32.
Hierdie vraag is diepsinnig en tersaaklik! Want geen mens
wat nie van Jesus geweet het nie, sou dit maklik kon
antwoord nie. Selfs die profeet kon slegs ‘n buitelyn skets
van wat uiteindelik sou gebeur. Filippus het dit nou beleef,
hy het die verduideliking, en hy kan hierdie man help om
te verstaan. Hy doen dit tot so ‘n mate dat die amptenaar
daarop aandring om gedoop te word.
Die wonderwerk van hierdie gebeure is deur God self beplan
en, onverwags vir Filippus, in hóm uitgevoer. Saan met hierdie
man sou die evangelie nou trek tot diep in Afrika!
As die man van Afrika hierop sou terugkyk, sou hy seker dink:
as dit nie vir die hulp van die Here was nie, wat Filippus op my
pad gestuur het nie, sou ek verlore gaan.
Filippus sou weer op die gebeure terugkyk en sê: As dit nie vir
die Here was wat my op hierdie stil pad gestuur het nie, sou ek
hierdie belangrike man uit Etiopië misloop, en sou die evangelie
nie so kon “reis” na Afrika toe nie.
So werk die Here ook onverwags in ons lewe, buite wat ons dink,
Sien, hoor, of selfs bid! So doen die Here baie meer deur ons as
wat ons dink of bid!
Ons kan saam met Paulus bid in Efesiërs 3:20-21:
“Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om
oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,
aan Hom kom die eer toe...”
Luister fyn na die Here wat groot dinge deur jou wil doen,
meer as wat jy bid of dink!
Ernest