‘n Ware ontmoeting met die Here laat jou nie onveranderd nie.
Handelinge 9:1 vertel hoe Paulus intussen soos ‘n besetene
voortgegaan het om die volgelinge van die Here met die dood
te dreig. Vers 2-3 vertel hoe hy na Damaskus gaan om aanhangers
van die leer van die Here gevange te neem en na Jerusalem toe te
bring. Op reis het daar skielik ‘n lig uit die hemel op hom gestraal
en ‘n stem wat sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy my?”
In vers 5 vra hy toe: “Wie is U, Here?”
Omtrent almal wat iets van die evangelie af weet, of reken hulle
weet iets, weet van Saulus se Damaskus ervaring. Sy regsomkeer,
wat beteken sy totale verandering! Sy ywer om te vervolg, en
daarna sy ywer om te bekeer. Sy eie gedurige kastyding van
vervolging, ter wille van die evangelie, wat sou volg op sy
vervolging van gelowiges.
Paulus het natuurlik goed geweet met Wie hy nou te doen het
met die vraag. Daarom spreek hy die Here aan as “Here”!
Sy vervolgings-ywer ná die dood van Stefanus was die laaste
verset teen die geloof in Jesus Christus. Daarom dat hy soos ‘n
besetene voortgegaan het daarmee...
God het goed gekies. God kies soos net God kan kies.
Soos Dawid, is Saulus ‘n ingewikkelde persoon met baie talente,
en ook swakhede, soos ons almal. Maar hy het ‘n brandende ywer
vir God en vir die Here se mense. Soos Dawid die volk Israel moes
organiseer en vestig, so het Saulus ook ‘n roeping gekry om te vervul.
Hy sou nou, na die Goddelike verskyning, as Paulus die evangelie van
Jesus Christus gaan uitdra en verduidelik! Jesus het die wêreld soos
‘n weerligstraal getref. Paulus moes onder leiding van die Heilige Gees
as’t ware die legkaart van die betekenis van die koms van Christus vir
die gemeentes aanmekaarsit. Met sy “doring in die vlees” sou hierdie
man reis met die evangelie en die Here sou deur hom wonders doen,
en briewe skryf, wat deurweek is van Christus en die liefde van Jesus
Christus vir mense.
Sy lewe lank sou Paulus hom daaraan verwonder hoe die Here hom
omgedop het om sy eie koninkryk te laat gaan, en God se koninkryk
te laat kom in Christus Jesus.
Is dit nie ook elkeen van ons se verhaal wat ‘n ware ontmoeting met
die Here gehad het en omgekeer is in sy Naam nie!?
Ons verwonder ons ook ons lewe lank in aanbidding dat die Here óns
so genadig is! Dat óns genade op genade ontvang het! Wanneer ons
werklik daaroor begin dink, en nadink, en oordink, en beleef, weet óns
ook Wie aan ons verskyn. Wie se Naam ons dra. En wie ons is in Christus!
Soos Paulus, nuwe mens!
Ernest