Dit is deur die eeue so:
Wanneer iemand besig is om jou te oortuig,
en jy wil nie oortuig wees nie, of wanneer jy die
waarheid weet en dit nie wil weet nie, verkleineer
jy die een wat die boodskap dra, of jy verjaag hom,
of maak hom dood, soos in Paulus se tyd. Iets soos
skille het van Saulus se oë afgeval. Letterlik en figuurlik.

Nou was hy Paulus, en sy bekering het ‘n beroering
gebring in die gemeente in Damaskus, en veral onder
die Jode. Die Gees van God het deur Paulus begin werk.
Hy het al hoe kragtiger gepreek...deur te bewys dat
Jesus die Christus is – Handelinge 9:22.

Dit was moeilik om hom te bevraagteken.
Hy was opgelei in die Joodse denke. Hy het presies geweet
hoe hulle dink. Hy het ook nou reeds groot ontdekkings
gedoen oor hoé Jesus werklik daarby inpas en inderdaad
die verwagte Messias is! Jesus is die Christus!
Die een wat sou kom, soos deur die profete beloof is.

Dit wou die Jode nie hoor nie. Paulus moes vlug, in die nag.
Hy is terug na Jerusalem. Daar het die gelowiges hom via
Sesarea na Tarsus gestuur om eers asem te skep en weg te
kom van sy vervolgers.
Later sou Paulus sê dat hy eerder in sy swakheid roem.
Maar hy was vir God ‘n magtige verkondiger.
Paulus sou ontdek dit is nie ‘n pad van maanskyn en rose
om die evangelie in hierdie wêreld sigbaar en met oortuiging
te dra nie. Hy sou dit vir ons leer wat dit vandag moet doen.
Ons moet dit ook weet. Ons moet, met daardie wete, óók weet
dat God deurgaans by ons teenwoordig is in die uitleef van
die boodskap: Jesus is die Christus!
Amen!

Ernest