Jesus is die Christus!
Hierdie boodskap is vir die hele wêreld!
Ons sien dat ook Petrus intussen nie stilgesit het nie!
Hy en Paulus se metode van dienswerk vir die uitdra
van die evangelie sou verskil, en hulle sou later selfs
daaroor verskil! Maar albei sou in Rome eindig.
Albei as martelare vir Christus.

Petrus het ‘n gesig gesien waarin die Here dit finaal vir
hom duidelik gemaak het dat die grense tussen Jood en
nie-Jood opgehef word in Christus. Die evangelie is ook
vir die nie-Jode bedoel. Dit is ons! Ons moet ook in terme
van die evangelie nie dink aan “ons” en “hulle” nie.

Die Romeinse kaptein, Kornelius van Sesarea, wat
“godsdienstig en godsvresend” was, het Petrus gesoek om
die evangelie te hoor. Petrus vergesel die boodskappers na
die huis van Kornelius. Daar kom hy te hore dat Kornelius dae
tevore ook ‘n gesig gesien het met ‘n opdrag om Petrus te gaan
opsoek en te gaan haal by die huis van Simon die leerlooier.
By Kornelius se huis aangekom, vind Petrus ‘n gretige gesin wat
graag alles van Jesus Christus wil hoor! In der waarheid ‘n gretige
begin van ‘n huisgemeente!

Petrus was oorweldig en hy maak ‘n erkenning wat ‘n gelowige
Jood baie moeilik sou maak:
dat God nie onderskeid tussen mense en volke maak wanneer dit
by redding kom nie, “maar uit enige volk aanneem wat hom vereer
en wat doen wat reg is.” – Handelinge 10:34-35.

Hierna verkondig Petrus aan hulle dat Jesus die Christus is!
Maak ons regtig nog onderskeid? Glo ons regtig nog dat die evangelie
net vir sekeres is? Hoe is dit moontlik dat ons nog kan vashaak by die
Joodse oortuiging dat hulle alleen uitverkore is? Ons is ook nie-Jode!

Jesus is die Christus! Hy het gekom om te soek en te red wie verlore is.
Uit alle volke, stamme en tale. Dra hierdie boodskap.
Tot aan die uithoeke van die wêreld.
Leef hierdie boodskap!
Tot redding vir elkeen wat glo!

Ernest