“Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal
gekom wat na die woorde geluister het.” – Handelinge 10:44.
Hierdie gebeure is al die tweede Pinkster genoem, of Pinkster
van die heidene. By die eerste Pinkster-vergadering was almal
wat teenwoordig was Jode. By hierdie geleentheid was Petrus
waarskynlik die enigste Jood. Maar dieselfde wondertekens
vind plaas. Getuienis en lof in alle tale. God blaas sy asem soos
‘n magtige wind in die liggaam wat Hy via sy ou verbond geskep
het. Soos Hy die mens aan die begin geskep het, om sy kerk te
word, gelowiges uit alle volke!
Nou was daar geen grense meer nie. Die kerk van Jesus Christus
sou gestalte kry en die Heilige Gees sou dit deur die eeue bewaar
en gedurigdeur suiwer. Hierdie mense wat die Here saamroep as
sy “kuriakon”, die Grieks waarvan die Afrikaanse woord “kerk”
afgelei is. God het besluit dat sy kerk saamgeroep sou word uit
almal wat in Christus glo. Hierdie familie van God word deur die
ganse geskiedenis gevorm en hervorm deur die Gees, wat daardie
dag ook oor die nie-Jode gekom het.
Maak dit ons nou “heilig”? In al ons verskillende vorme van
aanbidding? In die Gees: Ja! In die vlees: Nee!
Bernard van Clairvaux het dit treffend soos volg saamgevat:
“O, hoe subliem! O, hoe vernederend! Ons is tabernakel van seder
en heiligdom van God op aarde, tempel van lig, en ook voorwerp
van bespotting! O, dogters van Jerusalem, ons lang ballingskap het
ons laat verdonker, maar die hemelse skoonheid is nog iewers daar.”
Ons kan net “amen” sê hierop. Ons is die kerk. Die gelowiges.
Die geroepenes uit al die nasies. Tog is ons dikwels soos die ou volk
in die woestyn op ons tog na die beloofde land. Ons aanbid soms ons
eie vals gode...ons mor oor tekorte aan vleis en brood...ons verlang
terug na Egipte...die slawerny van die sonde...
Maar, God-dank, God kom ons altyd in genade iewers tegemoet.
Hy maak ons genadiglik weer van sy teenwoordigheid in ons bewus,
deur sy Gees wat in ons woon! By Sinai, of by Horeb,
of by ‘n brandende bos...God laat ons nie los.
Ernest