“In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.”
– Handelinge 11:26.
“Christen”. Dit is wie ek is!

Dit is eintlik ‘n besondere titel. ‘n Geweldige titel. Een wat gedurig
onder die vergrootglas is. Veral wanneer mense begin karakter
toetse aflê. Hume, die 18e eeuse filosoof, het gesê ‘n Christen is
iemand wat in wonders glo wat hom in staat stel “to believe what is
most contrary to custom and experience.” Hume het dit eintlik
afwysend gesê, maar daar is ‘n element van waarheid in. ‘n Christen
glo wel in wonders! Veral in die wonder van Jesus Christus wat
opgestaan het en leef! ‘n Christen sien ook die onsienlike.
Glo ook die “onmoontlike”, want by God is alles moontlik!

Die mense van Antiogië moes uit hul lewe laat blyk het dat hulle
ietwat anders was. Eintlik heel anders, met ander waarde sisteme
as die wêreld. Christene moet met dieselfde gesindheid leef wat
daar ook in Christus Jesus was, Hy wat Homself verneder het deur
die gestalte van ‘n slaaf aan te neem...” – Fil. 2:5-7. Christene dien!
Hulle dien die Here, en ter wille van die Here dien hulle mense.
Hulle pas die reël van die liefde toe. Onder die leiding van Barnabas
en Paulus in Antiogië het hierdie titel gebly, verdiend en onverdiend.
Dit is hoe die eerste Christene geleef het en vandag nog wil en moet leef.

Voltaire het gesê dit is ‘n skande dat die Christendom na hul stigter,
Christus, vernoem is. Dit laat ‘n mens wel dink, want ons optrede is
dikwels in stryd met wat Jesus geleer het. Ons naastediens is ook vol
krake. Ons diens aan God laat ook dikwels veel te wense oor.
Om ‘n Christen te wees is “maklik”, onder leiding van die Gees:
Jy glo in Christus as jou Lewe! Maar om as Christen te lewe...
dit is nie altyd so maklik nie. Ook in ‘n wêreld wat nie die rooi tapyt
vir Christene uitrol nie, maar eerder weerstand bied teen dit wat ons
glo en in Wie ons glo. Dikwels wanneer ons die Bybel neersit na tyd
saam met die Here, of by die kerk se deur uitstap, vergeet ons wat
ons pas geleer het en weerstaan en bedroef ons die Heilige Gees.

Paulus, die medeleraar van Antiogië verstaan dit so goed. Hy sê self in
Rom. 7:15: “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen,
dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.” Hoe ken ons nie
hierdie frustrasie en teleurstelling van Paulus ook met onsself nie!
Dat daar twee van myself is: Die een wat die goeie wil, en die ander
wat die slegte doen...

Die wonder van genade is dat die Here ons voort help met die goeie
wíl in ons en die voete van klei met ons. Ook net die Here sal dit doen!
Ons bly steeds kinders van God. Hy skryf ons nie af nie. Deur sy Gees
woon Hy in ons en groei ons in Hom. So sal ons uiteindelik “almal kom
tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun
van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak
en volwasse soos Christus.” Ons kan net hierop “amen” uitroep! Amen!
Ons is Christene! Ons dra die Naam van Hom wat in ons woon.
Chistus in ons en ons in Hom. Ons is Christene!

Ernest