Handelinge 13:2: “Sonder Barnabas en Paulus vir my af
om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.”
Die tyd van groot gebeure en magtige rukwinde van God
se verskyning het verbygegaan. Natuurlik kan God dit vandag
nog doen soos Hy wil. Maar hier in Handelinge was die tyd van
ekstase en opwinding en massa-bekerings besig om verby te gaan.
Soos dit in die normale gang van dinge gebeur. Niemand kan in
ekstase en opwinding bly leef nie. Dit word ‘n strik vir die soek van
net meer opwinding en ekstase, en uiteindelik die selfbevrediging
daarin, in plaas van die loop van die Woord ter wille van God.
Die gemeente moes weer die ware lewe met sy op en sy af ingaan.
Die werk van God moes met toewyding en daaglikse dien van mense
gedoen word.
Die gemeente van Antiogië bid saam en hulle kry ‘n duidelike opdrag:
Saulus en Barnabas moes “afgesonder” word om “die werk te doen
waarvoor Ek hulle geroep het”. Daar is werk in God se koninkryk op
aarde wat gedoen moet word. Veral Saulus, wat in hierdie hoofstuk
stilweg van naam verander na Paulus, se eintlike groot werk sou nou
eers begin!
God het Paulus met ‘n doel gekies. Hy was hoogs geskool in die wet.
Hy het die Griekse denke en letterkunde geken. Hy was ‘n Romeinse
burger “van geboorte”, ‘n gerekende man, en ‘n gemerkte man.
Die regte man vir God se sending in die destyds bekende wêreld.
God kies egter alle soorte mense om vir Hom te werk. Hy gebruik hulle
kragtig en rus hulle toe deur die Heilige Gees. Jesus het eenvoudige
ongeleerde vissermanne gekies om Hom te volg en so die wêreld
omgekeer!
‘n Vrou het eendag vir John Wesley ‘n brief vol spelfoute en verkeerde
aanhalings gestuur en geëindig met die woorde: “Mnr. Wesley,
God het nie jou geleerdheid nodig nie.” Wesley het terug geantwoord:
“Dankie vir die teregwysing, ek besef dit, maar God het u
ongeletterdheid ook nie nodig nie.” God het niemand nodig nie.
Vir wat God beplan, gebruik Hy alle soorte mense soos Hy wil.
Eenvoudige dissipels-vissermanne, en ook geleerdes soos Paulus.
Met almal wat vir Hom leef bereik Hy sy Goddelike doel. Nie een mens
is vir God belangriker as ‘n ander nie.
Vir wat God nou wou doen, wou Hy Paulus gebruik. Vir wat God later
wou doen, het Hy Wesley gebruik. Vir wat God in jou persoonlike
konteks wil doen, wil Hy jóú gebruik. Hoe gewoon ons ookal mag wees.
God werk ook aan ons en deur ons om sy werk te doen!
Die Here het ook jou “afgesonder”,
om vir Hom te leef en te dien waar jý leef!
Ernest