Paulus en Barnabas vertrek op die eerste sending reis
en Paulus gaan haal, soos Petrus, die evangelie verhaal
ver terug uit die geskiedenis. Die rede is dat hy voor Jode
staan, in die sinagoge, en dat hy vir hulle wil aandui van
waar af God al kom, uit die geskiedenis, met die koms van
die Messias. Hy lê veral ook klem op die sleutelrol wat
Dawid in die verlossings geskiedenis vervul het as koning.

Dit is merkwaardig hoe ver die Jode al in hierdie tyd versprei
het in Klein Asië, Griekeland, Italië, Egipte, tot so ver as Spanje!
Hierdie “verstrooiing” was ook deel van God se plan om die
evangelie wêreldwyd uit te dra!

Ten opsigte van Dawid sê Paulus in Handelinge 13:22 wat God
sê van Dawid: “Ek het in Dawid seun van Isai ‘n man na my hart
gevind.” Dit is merkwaardig. Ons weet tog ook van Dawid se foute.
In die misterie van God se opwindende handelinge met die mensdom,
is dit asof Hy as God van oneindige voorkeur vir verskeidenheid,
dikwels gebruik maak van mense en dinge wat groot waagstukke is
in óns oë! Hoe wonderlik werk God nie, ver bo wat ons bid of dink.
Hy werk met mense wat aan die een kant briljant is en aan die ander
kant vol foute.
Hoeveel vrymoedigheid gee dit óns nie in óns dienswerk en roeping
vir die Here nie! God werk met en in alle mense. Briljante mense,
ongeletterde mense, mooi en minder mooi mense...alle mense wat
sy stem hoor, tot redding vir elkeen wat glo!

Dit is God wat ewig-deeglik sy plan met die mensdom uitvoer!
Dit laat ons ook dink aan die hiernamaals. Sal dit nie ook ‘n
belewenis wees van God se miljarde fasette van heerlikheid en
skoonheid nie. Ontelbare kaleidoskope wat gedurig onder God
se sorg en grootheid ons sal verras...
Ons dink so enkelvoudig oor die nuwe hemel en nuwe aarde.
Ons wil as’t ware gerus wees daarin dat dit sus of so sal wees.
Hoe verrassend gaan dit nie wees nie! En tog ewig geanker in
die vrede en krag van God se teenwoordigheid!

Ons is almal soos Dawid en Paulus, mooi én minder mooi.
Maar God draai ons na die son, om te groei en vrug te dra.
Hy draai ons na die Lig wat elke mens verlig – Johannes 1:9.
Hy het ons gemaak om Hom te behaag. Ook met die teenstellings
en verskeidenheid van ons persoonlikheid. Uiteindelik na sy beeld.
Mag ons Hóm vandag vreugde gee.

Ernest