Wanneer gee ons regtig op met mense?
Kan ons ooit opgee met mense. Moeilike vrae...
Ons hoor soms dat ouers aan hulle kinders sê om los
te maak van vriende wat hulle net skade doen. Ons hoor
ook van mense wat sê dit help nie om iemand aan te hou
vergewe nie, want die persoon gaan eenvoudig voort om
uit te buit, te mishandel en gewetenloos op te tree.

Ons lees in Handelinge 13:51 ook van moeilike omstandighede
waarin Paulus hulle moeilike besluite moes neem oor mense en
hulle teenstand. Daar staan: “Hulle het toe as gebaar teen die
stad Antiogië die stof van hulle voete afgeskud en na Ikonium
toe gegaan.” Hierdie “gebaar” van die stof van die voete af skud
as mense hulle nie wil ontvang nie of volhardend teenstand bied,
wys na Jesus se woorde toe Hy sy eerste dissipels met die evangelie
uitgestuur het. Jesus het geweet dat sommige mense sy dissipels
sou ontvang en ander hulle toegang sou weier. Vir die wat hulle
ontvang het was daar seën, en vir die wat hulle volhardend geweier
het, was daar oordeel.

In Antiogië was die ontvangs aanvanklik goed en skares het
saamgetrek om die woord te hoor. Jode en nie-Jode het tot bekering
gekom. Veral die “heidene” het die boodskap “toegejuig” – vers 48.
Daarmee was vooraanstaande Jode só ontevrede dat hulle selfs die
“godvresende vroue” vyandig teenoor Paulus hulle gemaak het.
Paulus hulle moes die wyk neem! Hulle skud die stof van hulle voete af.
In Antiogië was daar egter ook talle gelowiges wat “vol blydskap” was!

Daar kom ook tye in die lewe van ‘n Christen wanneer ‘n mens
“die stof van jou voete afskud”. Al is dit net simbolies en al word geen
vergelding of veroordeling daaraan gekoppel nie. Dit word ook nie
uitdagend bedoel nie. Dit kan enige iets wees en baie vorme aanneem.
Dit is nie altyd ‘n kwessie van “wil” nie, maar “moet”. Dink aan Martin
Luther wat sy stellige teen die deur vasgespyker het en met die Roomse
Kerk en leer moes skei. Of die beëindiging van ‘n verhouding of vriendskap
waaruit geen seën te put is nie, maar net misbruik, mishandeling en hartseer.
Daar kom tye wanneer jy ‘n deur moet toemaak, met hartseer in jou hart,
t.w.v. die Naam en eer van God. Tye wanneer jy byvoorbeeld besef dit
verhinder jou gebede, aanbidding en jou lewe vir die Here.

Dit vra egter gebed, en die leiding, en die onderskeidingsvermoë,
en die wysheid van die Heilige Gees aan jou, om dit te doen.
Mag die Here ons daarin lei, en oortuig en daardeur dra,
wanneer ons “die stof van ons voete moet afskud”.

Ernest