In Listra het Paulus ‘n verlamde man aangekyk en gesê:
“Staan regop, op jou voete!” Die man kon weer loop en
die skare was in ekstase.
“Die gode het soos mense geword en het na ons toe
afgekom”, het hulle gesê. Selfs vir die mense in die kultuur
van die Romeinse veelgodedom was dit ‘n wonder.
Paulus het ernstig beswaar gemaak en hulle daarop gewys
dat hulle slegs Jesus Christus verkondig. Die mense wou
egter steeds aan hulle “as gode” offer.
Dit is opmerklik dat wonders van hier af aan al hoe skaarser
in Handelinge raak. God sou steeds ingryp tot getuienis van
sy boodskap, maar wondertekens het al hoe minder voorgekom.
Die apostels moes al hoe meer leer om in geloof en gebed voort
te gaan in die werklikheid van God se teenwoordigheid.
Wat in Listra gebeur het, maak in ‘n mate duidelik dat sulke
wondertekens al hoe meer moes plek maak vir geloof. Dit is
eenvoudig menslik om agter wonders en tekens aan te gaan
en om te leef in die opwinding van bonatuurlike gebeure.
Wonderwerke sou nie ophou nie. Ook nie vandag nie.
Maar geloof en die diens aan God is die eenvoudige aanvaarding
van feite van die verlossing in Jesus Christus.
Ons verlang steeds na wonders. Ons bid selfs daarvoor.
En ons beleef dit ook konkreet. Om egter ons hand in geloof uit te
steek is miskien nie so dramaties en aanskoulik nie, maar dit is ‘n
avontuur omdat ons weet Iemand vat verseker ons hand!
Leef doelbewus in God se deurlopende teenwoordigheid by jou.
Ernest