Met die Evangelie in Europa het Paulus en sy
medewerkers groot avonture beleef, groot suksesse,
groot seën en ook mislukkings. Hy is in Filippi in die
tronk gegooi. Maar die Here het hom bevry. Hy het
in Athene onsuksesvol met die geleerdes geredeneer.
In Korinthe het hy ‘n gemeente gestig. In Efese het hy
oproer oorleef. In Jerusalem het hy met die Jode gebots.
Dit lei tot sy finale arrestasie. Hy het homself meesterlik
voor koning Agrippa verdedig.

Hy beroep hom as Romeinse burger op die keiser.
Op pad na Rome oorleef hy ‘n skeepsramp. Hy praat
almal op die skip moed in en sê hulle sal gespaar bly.
Dit gebeur. Op Malta het ‘n slang hom aan die hand gepik,
maar hy het eenvoudig die slang in die vuur afgeskud.
‘n Besondere reis met die evangelie,
ter wille van die koninkryk van God...

Paulus sou sy ervaringe nie as voorbladnuus beskou het nie.
Die Here het hom gestuur om die Woord te verkondig,
en hy het dit gedoen. Geen storm of slang sou dit keer nie,
want God het hom gestuur, en God sal sy doel bereik.

Let op: God spaar hom nie die storms nie. Paulus beleef nie
‘n sagte vaart op sy sending-reise nie. Maar God skep uit elke
terugslag ander geleenthede.
Dikwels verknies ons onsself oor die een of ander terugslag
in ons lewe vir die Here. Iets wat ons hinder, of verhinder.
Skud dit af. God sal jou op jou lewensreis vir Hom dra.
God sal sy doel bereik met die roeping wat Hy jou gee,
in die konteks waar Hy jou gebruik. Hou vas daaraan,
en gaan voluit vir die lewe saam met Hom!

Ernest