Psalm 8 sê duidelik wie die mens, en daarom ook ek,
in God se oë is. Ps. 8:6 sê: “U het hom net ‘n bietjie minder
as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer
gekroon.” Dit is wat God oor jou sê! Hy het jou geskep!
Daar is niemand, daar was nog nooit iemand, en daar sal
ook nooit iemand wees soos jý nie!
Friedrich Schleiermacher, die groot teoloog-filosoof, het
eenkeer diep ingedagte in ‘n parkie gesit. Dit het tyd geraak
dat die hekke van die parkie gesluit moes word, en die opsigter
het aan hom gevra: “Wie is u meneer?” Hy het geantwoord:
“Ek!? Ek wens ek het geweet!” Dit was ‘n hoogs geleerde en
intellektuele se antwoord!
Die mens is inderdaad ‘n geheimenis. ‘n Wonder van God!
Ons is die enigste van God se skepsels wat kan sê: “Ek”.
Die diereryk, visse en voëls het nie ‘n selfbewussyn soos die
mens nie. Dit bestaan bloot instinktief en spontaan, en die
skepping eer God bloot in die bestaan daarvan! Die Psalms is
vol daarvan!
Maar óns, ons kan nadink oor onsself. Ons kan nadink oor alles,
oor die skepping, oor God, oor onsself, oor die lewe, en ewige
lewe, en Lewe met ‘n hoofletter. Dit is ‘n groot wonder dat ons
van onsself bewus kan wees as wesens met ‘n eie identiteit,
unieke skepsels wat anders is as die wêreld om ons, en anders
is as ander mense om ons! Ons het die voorreg, en ons kan
doelbewus in God se teenwoordigheid sê: “Ek”, en “U”.
Ons kan, soos Abraham, God doelbewus antwoord met:
“Hier is ek!” – Genesis 22:1.
Terug na die vraag: Wie is ek? Miskien weet ons dit net so
min soos Schleiermacher...
Maar een ding weet ons verseker: Ek is God se skepsel.
Die kroon van sy skepping, sê Psalm 8. Uniek. Onskatbaar
waardevol vir God! Lees weer Psalm 8:6-9. Ek is beeld-draer
van God. Ek hoef nie en moet nie van myself min dink nie.
Ek moet my ook nie daaroor verknies as iemand anders min
dink van my nie. Daar is niemand, daar was nog nooit iemand,
en daar sal nooit iemand wees soos ek nie. Uniek geskep deur
God, in my konteks en familie, en verhoudings.
God skep waardevol, elke mens, tot sy eer. Dit is wie ek is!
Ernest