Ons hoor dikwels dat mense sê: “Ons het net nommers geraak...”
Kyk net hoeveel nommers het jy waarmee jy jou kan identifiseer:
Identiteitsnommer, paspoortnommer, bankrekening-nommer,
kredietkaartnommer, mediese-fonds nommer, pensioen-nommer,
kieserslys nommer, belasting nommer, selfoon nommer...en nog
nommer op nommer waaraan ons nou nie eers dink nie.

Dit is natuurlik nuttig en nodig. Maar jy begin voel jy is net per
nommers identifiseerbaar. Jy as unieke persoon word verswelg
deur onpersoonlike nommers. Dit is ook ‘n simptoom van die
wêreld wat koud en onpersoonlik geraak het. Mense word
nommers en word soos nommers behandel. Later voel mense
soos statistiek. Mense voel vervangbaar. Misbaar. Onbelangrik.
Ons wonder: Wat maak jou ánders?

God sien nie mense as nommers nie. God tel die hare op ons kop!
Matteus 10:30-31: “Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.
Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
God sien ménse raak! Elke mens. In liefde. Ook vir jou. Hy weet waar
jy woon, waar jy werk, en óf jy werk het, waar jy studeer, waar en
hoe jy ontspan. Hy is bewus van jou frustrasies en wat jou bang maak.
Hy weet ook wat jou bly maak. Hy ken jou naam!

Die Bose wil mense ont-menslik. Maar God sê:
“Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne” – Jesaja 43:1.
God gee ons ook ‘n nuwe naam: Christen. Kind van God.
Langs dié naam staan daar nie ‘n nommer geskryf nie.
Net God se naam vir sy kind.

Ernest